Gedagte vir die dag: God se eer

kneel-before-the-cross1 Kon 20:28 – “Dan sal julle besef dat Ek die Here is”.

“Hoekom seën en beskerm die Here die goddelose koning Agab, iemand wat gelowiges vervolg het?” vra iemand in ‘n studiegroep. Die antwoord is dat dit nie oor Agab gegaan het nie. Dit het oor God se eer gegaan. Agter die skerms was daar ‘n groter stryd aan die gang. En God was in beheer. Ben-Hadad met al sy grootpratery is totaal verneder toe hy vir Agab kom aanval het. Ons kan sê dit was omdat die leiers ‘n dronkpartytjie gehou het terwyl hulle nugter moes wees (1 Kon 20:16). Maar hulle het self geglo dat daar ‘n geestelike oorsaak was (v 23). Hulle het geglo die “gode” van die Israeliete was berggode, en daarom moes hulle volgende keer in die vlakte veg waar die berggode nie sou kon help nie (v 25). Hulle het ook ontslae geraak van die onbeholpe konings wat die leërs aangevoer het, en die bevel aan professionele soldate oorgedra (v 24). Ben-Hadad het toe ‘n veel groter weermag versamel, sodat die Israeliete soos twee troppies bokkies teen die oorweldigende oormag gelyk het (v 27). Agab sou nie ‘n kans hê as God nie ingryp nie. En Hy het, want sy eer was op die spel (v 28). Elke ding wat ons vandag gaan doen of sê, bring ook die eer van God in die gedrang. Jy staan mos bekend as ‘n Christen. Die ongelowiges sal dus uit hulle pad gaan om jou te verlei of te tart sodat jy die onderspit moet delf. Dit gee hulle groot lekkerte as ‘n Christen in sonde val. Maar omdat God se eer op die spel is, kan jy met vrymoedigheid die Here se hulp en bystand vra.

Gebed: “Here, sonder U kan ons niks doen nie. Dra elkeen van u kinders deur hierdie dag.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.