Psalm 91:11,12 – Sy engele sal jou omring wanneer die Here vir hulle sê om dit te doen. Hy sal sê dat hulle jou moet beskerm. Hulle sal jou veilig in hulle hande vashou sodat jy nie seerkry nie.
Het jy al ooit gehoor as daar vir iemand gesê word: “Jy is ʼn engel”? Die bedoeling daarvan is uiteraard dat die persoon iets baie gaafs en goeds vir iemand anders gedoen het. Maar besef jy engele is ʼn realiteit? Ek weet ons praat min daaroor en jy hoor min boodskappe daaroor, maar dit beteken nie dat engele nie ʼn werklikheid is nie. Daar is verskeie plekke in die Bybel waar daar oor engele geskryf word. God stel sy engele tot sy kinders se beskikking om hulle te bewaar eb te beskerm. Hy gee sy engele opdrag om jou op te pas. In Matteus 18:10 lees ons ook dat klein kindertjies engele het wat hulle oppas. Jy mag dus vir God vra om sy engele te stuur om jou en ju geliefdes te bewaar en te beskerm. Jy kry ʼn “bumper sticker” wat sê “Protected by Psalm 91” wat presies dit verduidelik: Engele het ʼn plek en ʼn rol om jou te beskerm en op te pas.
Hy alleen is die Een wat nooit tevergeefs gesoek word nie; selfs wanneer ons Hom skynbaar nie kan vind nie, is Hy by ons. – Bernard van Clairvaux
Gebed: Here, dankie vir u beskerming en bewaring. Dankie dat U u engele opdrag gee om my en my gesin te bewaar en te beskerm.
Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy