Gedagte vir die dag: God se geskenk vir jou

Psalm 16:5, 6 – Alles wat die Here vir my doen, maak my vol vreugde. Hy is die grootste geskenk wat ek nog ooit gekry het. U sorg vir my, Here. U het die mooiste dinge in die lewe vir my gegee. Ek kan nie uitgepraat raak oor al die wonderlike dinge nie. Dit maak my baie gelukkig. Ek bly in ʼn mooi land.

Ek besef elke dag baie deeglik dat ek nie meer ʼn kind is nie. Ek voel dit nie net aan my lyf nie, ek beleef dit sommer ook in al die verantwoordelikhede wat saamgaan met ouer word. In my hart bly ek egter ʼn kind as dit kom by geskenke. Noem my kinderlik, maar om ʼn geskenk te kry is baie lekker. Daardie afwagting en gevoel van verassing is doodgewoon heerlik. Die Here gee elke dag vir my en jou baie dinge as geskenke. Daar is mos ʼn sê-ding wat lui: Jy waardeer iets eers werklik wanneer jy dit verloor of gevaar staan om dit te verloor. Neem maar jou gesondheid as voorbeeld. Wat ʼn wonderlike geskenk van die Here! Ware vriende is geskenke van die Here. Energie en passie is ʼn geskenk uit God se hand. Die grootste geskenk ooit is egter God self. Hy buig af na my en jou in ons ellende van sonde. Hy kom plant ʼn kruis hier op aarde en Hy kom gee sy kosbare Seun vir wie Hy so lief is om in ons plek te sterf. Hy word die lam wat geslag en geoffer word sodat ek en jy vergewe kan word. Ja, God gee nie net wonderlike dinge nie. Hy gee ook Homself. Het jy al hierdie geskenk aanvaar en werklik jou eie gemaak?

Gebed: Vandag staan ek opnuut in verwondering oor die grootste geskenk ooit. Dankie, Here! Dankie dat U Uself vir ons gee. Ek koester die grootste geskenk ooit.

Jesus gee nie vir ons ʼn resep om die weg na God aan te wys – soos leiers van ander godsdienste maak nie. Hy is self die weg. – Karl Barth

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.