Psalm 100:5 – Die Here is ʼn goeie God! Hy sal ons wat in Hom glo, nooit ophou liefhê nie. Hy is ʼn goeie God, nou en vir altyd!
Ek is baie lief vir musiek, veral die musiek van Chris Tomlin en die Passion-jeugbeweging in Amerika. Een van hulle nuwe liedjies se woorde is vir my aangrypend: Hulle sing oor God se liefde vir my en jou en die woorde sê onder andere: “On and on and on and on it goes.” Ja, dit is so waar, soos hulle ook sing: “His love never fails.” God se liefde vir my en jou hou doodgewoon net nooit op nie. Dit maak nie saak onder watter omstandighede nie: in jou beste tye en in jou slegste tye hou dit nooit op nie. Ja, dis onverdiend. Ja, dis onverklaarbaar. Dis egter die wonderlike feit van genade: God se liefde vir jou is vas en onvoorwaardelik. Dit maak nie saak of jy dink jy is die engel Gabriël in jou dade en optrede nie. Dalk is dit juis die meeste werd wanneer jy juis voel jy verdien nie sy liefde nie. Niks wat jy doen, of nie doen nie, verander aan sy liefde vir jou nie. Jy is syne en Hy het jou gemaak om jou te kan liefhê. So sal dit altyd wees.
Liefde kom na ons toe vanuit die hemel sonder dat ons daarvoor soek of daarna vra. – Pearl S Buck
Gebed: Here, daar is tye wat ek voel ek verdien nie u liefde nie. Dit is juis dan wat ek kan bly wees en U kan loof: u liefde vir my is onvoorwaardelik en hou nooit op nie.
Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy
Dankie my Vader, ek loof en prys U vir U onverdiende liefde. Amen!