Gedagte vir die dag: God se liefde vir jou is baie groot

liefdePsalm 103:11,13 – So ver as wat die verste punt in die heelal van ons af is, so groot, en nog groter, is die Here se liefde vir elkeen wat Hom dien. Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde.

Wat is groot? Ek kan dink aan berge wat groot is – reusagtig groot. Ek kan dink aan foto’s in tydskrifte wat ek al gesien het van babas wat groot is – dan weer ʼn eenjarige seuntjie wat miskien tien of vyftien kilogram weeg. Ek kan dink aan ʼn walvis wat groot is, of ʼn olifant. Ja, groot is voorwaar ʼn baie relatiewe begrip. God se liefde vir my en jou is groot, oneindig groot, onmeetbaar groot, onverstaanbaar groot. As ek en jy dalk ʼn klein bietjie meer hiervan kan verstaan of werklik kan besef, sal ons lewens verseker anders lyk. Ons sal verseker meer en meer uit genade leef. Ons sal verseker meer en meer uit dankbaarheid leef. Dalk is dit tyd dat jy God vra om doodgewoon sy Woord te oordink. Maak tyd en sit stil en vra God om jou te help om sy geweldige intense en groot liefde vir jou beter te begryp en te verstaan. Hy is jou volmaakte Vader in die hemel wat jou met ʼn volkome en volmaakte liefde lief het. Terwyl ek hier skryf, oorweldig die wete hiervan my en loop ek oor van dankbaarheid. God het jou en my lief met ʼn oneindige, onmeetbare liefde.

God se liefde vir my is onuitputlik, en sy liefde vir my vorm die basis van my liefde vir ander. – Oswald Chambers

Gebed: Here, ek loof U vir u liefde vir my. Dankie vir u onverdiende, onvergelyklike, onmeetbare en oneindige liefde vir ʼn gewonde mens soos ek. Ek prys U, Here!

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.