Gedagte vir die dag: God se vreemde roeping

kneel-before-the-crossHand 7:3 – “Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys”.

“Klink dit nie vir jou ook na ‘n sendingroeping nie?” vra my Amerikaanse vriend David Bliss na aanleiding van hierdie gedeelte (Gen 12:1-30). Baie Suid-Afrikaners het ‘n soortgelyke roeping gekry om die evangelie uit te dra na mense in ander lande wat nog nooit van Jesus gehoor het nie. God het mos ‘n doel met elkeen van ons. Sommige moet na ander lande toe gaan en ander moet hier bly om hulle te ondersteun. Watter soort is jy?

Die diaken Stefanus is gevange geneem op grond van valse getuienis, maar kry die kans om hom te verdedig. En hy begin met ‘n geskiedenisles wat aan sy hoorders oorbekend is. Die slim mense sê sy aanhalings kom uit die Septuagint – die Griekse Ou Testament – en dit wys dat Stefanus ‘n Griekssprekende Jood was. Hy was vol van die Heilige Gees (Hand 6:5) en het soos ‘n engel gelyk (Hand 6:15). Hy het nie ‘n nuwe profetiese uitspraak gemaak nie, maar die hoorders eenvoudig gewys dat dit wat nou aan die gebeur was, maar net die vervulling van die beloftes in die Ou Testament was. Dit was niks vreemds nie. Dit was nog dieselfde God wat aan die werk was, en die Israeliete was nog steeds net so ongehoorsaam soos in die verlede. Die gebeure was die vrug van God se verbond (Hand 7:7).
Galasiërs 3:29 verduidelik dat elke ware gelowige – ook ek en jy – nakomelinge van Abraham is, en daarom erfgename van die beloftes wat God gemaak het. Dit is dus baie sinvol om noukeurig te kyk wat die Here vir ons in die Ou Testament sê, want dit sal ons help om te verstaan wat Hy vandag in en deur ons wil doen.

Gebed: “Dankie vir u roeping vir my, Here. Help my om dit te gehoorsaam.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.