Gedagte vir die Dag: God sien jou raak

Teks: “Luk. 7: 13: “Toe die Here haar sien…”

Uit die stadjie Naïn was ‘n begrafnisstoet oppad.

Vooraan die stoet was die draagbaar met die lyk van ʼn jongman. Dan sy ma, ʼn weduwee, onvertroos in haar matelose smart. Dan die menigte van die stad wat ook hul medelye wil betoon. Maar dis sý vir wie die Here raaksien. Daar is geen aanduiding dat Jesus haar geken het nie. Tog het hierdie vrou wie se lewe daardie dag so ʼn tragiese wending geneem het, nie Jesus se oog ontgaan nie.

Die Bybel sê: “Hy het haar gesien…” Geen smartvolle hart of gefolterde gees ontsnap Sy aandag nie. Jesus het ʼn oog vir hulle wat in pyn en smarte verkeer, wat verdruk word, wat swaarkry.

Wanneer ʼn mens in die put van smarte beland, wanneer depressie jou soos ʼn donker nag oorweldig, voel jy dikwels alleen, ja, soms ook van God verlate. Maar neem dit vandag van my: God sien jou raak. Toe Sy volk in Egipte verdruk is, het God hulle geroep en gekerm gehoor. ( Eks. 2:23+24) Toe Sy dissipels desperaat in die nag op ʼn stormsee worstel, sê Mk. 6: 48: “Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Dawid het hierdie gedagte goed verstaan toe hy in Psalm 34:19 bely: “Die Here is naby die gebrokenes.”

Om te dink dat één nietige klein ou mensie, ʼn weduweetjie in ʼn primitiewe, antieke gemeenskap en ʼn klein ou stadjie, die aandag van die Here getrek het. Sodat ek en jy mag weet en kan onthou dat die Here jou nie vergeet het nie, al voel jy alleen, verlate en verwese in jou seer en stryd. Vir ander mag jy net ʼn nommer wees – vir Hom is jy nommer Een!

Gebed: Dankie dat ek vandag kan glo en daaraan kan vashou, dat U my ook raaksien! Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

My kommer en sorge is dalk baie ligter as baie andere se smarte en terneergedruktheid maar nogtans put ek soveel krag uit die “God sien jou raak” boodskap dat ek die lewe sommer weer met vreugde en lewenslus tegemoet kan gaan.

En die Here het my voorwaar raakgesien want groot verligting het vandag in my lewe gekom oor ‘n saak wat my vir lank gekwel het. Ek dank God vir sy liefde en genade al verdien ek dit nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.