Gedagte vir die dag: God sorg vir almal

Psalm 71:6,18 – Van my geboorte af is U ʼn steunpilaar vir my. Van daardie eerste oomblik af dat ek met soveel moeite in die wêreld gekom het, het U my beskerm. Daarvoor sal ek U altyd prys. Ja, selfs noudat ek oud en grys geword het, sal ek dit aanhou sê. God, moenie nou u rug vir my draai nie. Ek wil eers vir my klienkinders vertel hoe sterk U is.

Ek het onlang oupa geword. O aarde, maar dit is spesiaal. Klein Lilia is die oulikste, mooiste en vriendelikste dogtertjie wat nog ooit gebore is. Ek is baie lief vir kinders en vir ʼn groot deel van my lewe werk ek dan ook geestelik met hulle. Hulle is so afhanklik van ander vir hulle geluk. Baie kinders kry baie seer juis omdat volwassenes soms nie liefde, genade en aanvaarding teenoor hulle leef nie. Aan die ander kant van die skaal is daar die ou mense – kosbare mense met geweldige lewenswysheid en lewenservaring. ʼn Mens kan steeds so baie by hulle leer. Ja, die wysheid van die grysheid is voorwaar ʼn realiteit. Hulle het egter ook ʼn broosheid in hulle omdat hulle swakker word soos hulle ouer word. Hulle is dus ook op groot skaal aangewese op die liefde en genade van mense. Die waarheid van hierdie psalm is dat God vir alle mense sorg: jonk en oud. God het ʼn deernis vir kinders wat afhanklik is van Hom en ander mense vir hulle lewens. Terselfdertyd het Hy deernis vir die ouer garde wat al swak geword het as gevolg van hul ouderdom en dalk swakker gesondheid. Kom ons speel ook ons rol deur God se liefde en genade tasbaar na alle mense te leef.

God is te wys om ʼn fout te maak, en te liefdevol om iets tot ons nadeel te doen. As jy dus nie sy hand kan sien in die dinge wat met jou gebeur nie, vertou gerus Sy hart. – Charles H Spurgeon

Gebed: Here, dankie dat U alle mense liefhet en vir alle mense sorg. Ek wil graag gehoorsaam wees en U liefde na jonk en oud uitleef.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Ons kan maar net bid dat God ons begelei om iets van Sy genade en liefde ook aan ons medemens oor te dra – want Sy genade en liefde is onuitspreeklik groot en wyd in omvang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.