Gedagte vir die dag: God wil jou graag help

kruis-wolkeOns wag op lig, maar dit bly donker, ons wag op ’n straaltjie lig, maar ons pad bly pikdonker. Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. (Jes 59:9, 1)

Die profeet Jesaja tree op in ’n donker tyd vir God se volk. Omdat hulle so ongehoorsaam was, straf God hulle deur hulle in ballingskap te laat wegvoer. Dan ontferm Hy Hom weer en belowe om hulle genadig te wees en hulle na hulle eie land te laat terugkeer.

Wanneer dit moeilik gaan, is daar twee maniere waarop God se kinders kan optree. Soms is dit makliker om, as dit sleg gaan, jou rug vir God te keer en self te probeer regkom. Maar uiteindelik ontdek ons altyd weer in krisissituasies dat God die enigste Een is wat werklik kan help. Verbondsmense weet dat God altyd daar is in hul krisisse. Hulle hoef nie ander krukke soos dwelms of drank te kry om hulle krisisse te probeer hanteer nie. Niks anders werk regtig as jy in benoudheid is nie; net God kan jou help in ’n krisissituasie. En Hy wil dit graag vir jou doen. Sy arm is nooit te kort om te help en sy oor nooit te doof om na jou klagtes te luister nie. Al bly dit op die oomblik donker om jou, sal Hy uiteindelik weer vir jou lig gee, mits jy vas op Hom bly vertrou.

Here, dis so donker in my lewe. Ek kan nêrens ’n ligstraaltjie sien nie. Dankie vir die belofte waaraan ek kan vashou: dat u arm nie te kort is om my te help en u oor nie te doof is om na my te luister nie. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.