Gedagte vir die dag: Godsdiens sonder God

Joh 5:2: By die Skaappoort in Jerusalem was daar ’n bad met die Hebreeuse naam Betesda”.

Betesda. Net maar ’n opgaardam vir Jerusalem se afloopwater. Tog het God gekies om Hom hier te openbaar. Sou die tempel dan nie eerder die plek gewees het waar ’n mens sulke Godsopenbarings te wagte sou wees nie? Is dít nie waarheen die siekes en die blindes en die kreupeles hulle eintlik moes wend vir ’n aanraking van God nie?

Daar wás ’n tyd toe die tempel inderdaad die “huis van God” was. Ons lees in 2 Kronieke 5:14 dat die teenwoordigheid van die Here by die inwyding van die tempel so kragtig was dat die priesters nie kon bly staan om hulle dienswerk te doen nie. Die tabernakel en die tempel in die Ou Testament was waarlik die plek waar God onder sy volk kom woon en waar Hy wonders gedoen het. Daar het egter ’n dag aangebreek toe die profeet gesien het hoe die heerlikheid van God die tempel verlaat weens die volhardende sonde en afkerigheid van sy volk.

Inderdaad was die tempel van Herodes in die tyd van Jesus (selfs al was dit toe nog nie voltooi nie) ’n indrukwekkende gebou. Dit was die simbool van godsdienstigheid met al die rituele en seremonies, die priesters met hulle gewade, die altaar en die offers, die kandelaar, die offerbrode en die reukofferaltaar. Maar van God self was daar skynbaar nie veel te sien nie. Siekes het nie daarheen gegaan om genesing van God te ontvang nie, net om te bedel (Hand 3:2). Dáár het die godsdienstige leiers neergekyk op ’n weduwee wat net twee munte in die skatkis kon gooi. Ja, die tempel het alles gehad wat godsdiens kon bied. Hoe jammer net God was nie daar nie. Gelukkig het die mense in nood uitgevind waar Hy wel is.

Baie mense bedryf godsdiens sonder God. Dis nie genoeg nie.

Gebed: Here, ek het meer as godsdiens nodig. Ek het U nodig. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gawie Botha ·

Daar is soveel ongunstige insidente in die wereld,waarvan ons deesdae hoor en ondervind,n geween en gekners van tande,so asof die aarde reeds die voorsmaak is van die “Hel” waarvan in die bybel gelees word, Vir sommigge mense op aarde het die wereld reeds vergaan,in Tsonamies en orkane!
Dan vra ek,waar is God!,wie se hande werk is verantwoordelik daarvoor,waarom,wie,wat,waneer en hoekom!
Sekere predikers sal antwoord,jy mag nie God die vrae vra,omdat die sogenaamde leke predikers,ook nie die antwoorde het,,,,,,,,,,,Wat vandag gebeur op aarde,is daar te min inligting,om te bewys,dat ek as mens is veilig op hierdie skepping!

Past. Willie Norris ·

Ja dit is waar.”Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”(OPENBARING 3:20 AFR53).Die eienaar van die Kerk staan buite en wil graag inkom

H J Bester ·

Dankie dr Isak vir ‘n stukkie openbaring. Ek het ook my kerk verlaat omdat dit lou geraak het en nog net ‘n kerk van tradisie, rituele en mooi en sedige gebruike geraak het maar waar God se teenwoordigheid nie meer aangevoel is nie.

My weggaan uit my kerk het vir my sover baie sielewroeging en twyfel meegebring maar telkens is ek dankbaar dat God my nie verlaat het nie – inteendeel ek leef baie nader aan God as ooit tevore.

Bid vir my – dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.