Gedagte vir die dag: Goeie leiding

friends-group-young (1)2 Kron 34:33 – So lank hy geleef het, het hulle nie weggedraai van die Here, die God van hulle voorvaders, af nie.

“As ek vra wie verlede jaar die Oscars gewen het, of wie die Olimpiese kampioene was, of wie die minister van onderwys is, sal min mense my seker die regte antwoord kan gee. Maar as ek vra wie in jou skoolloopbaan die meeste vir jou beteken het, dan sal jy geen probleem hê om dadelik aan iemand te dink nie.” Die regte leiers maak ‘n onuitwisbare indruk, veral as ‘n mens nog jonk is. Koning Josia was so ‘n leier. Hy het nie geglo dat godsdiens ‘n privaat saak is nie. Sy geloof het sy optrede beïnvloed. Almal in die land het geweet wat hy glo, en het sy voorbeeld gevolg. Hy het ‘n verbond met die Here gesluit, en al sy onderdane daarby ingesluit (2 Kron 34:32). Hy het getrou gebly, en hulle ook, so lank hulle hom as hulle voorbeeld gehad het. Hoe verlang ons nie ook na sulke leiers nie! Ons soek mos mense na wie ons kan opsien, vir wie ons kan respekteer en wie se leiding ons met vrymoedigheid kan volg. Kom ons bid ernstig dat die Here ons sulke leiers sal gee. Dit is maklik om ander mense te kritiseer, maar ons vergeet dat elkeen van ons ook ‘n leier is. Ons lei ons kinders en vriende deur ons woorde en voorbeeld. Ons gee leiding by die werk, op die plaas, in die sakewêreld en in die akademiese wêreld. Sal ons ook eendag so ‘n getuigskrif soos Josia kan kry? Kom ons gebruik sommer vandag ons geleenthede om ‘n positiewe invloed op ander uit te oefen.

Gebed: “Here, maak my ‘n Ieier wat ander reg sal lei.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.