Gedagte vir die dag: Goeie raad

Argieffoto (Foto: Cassidy Rowell/Unplash)

“En die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, antwoord hom en sê: Só moet u die volk antwoord wat met u gespreek en gesê het: U vader het ons juk swaar gemaak, maar maak u dit ligter oor ons, só moet u hulle antwoord: My pinkie is dikker as my vader se lendene” (2 Kronieke 10:10).

Skrifgedeelte
2 Kronieke 10:10

Oordenking
Dit is die woorde van ’n dwase jong koning. Hy het die regering oorgeneem by sy pa, wat niemand anders was nie as die wysste man wat ooit geleef het, koning Salomo. Die mense het na hom toe gekom en gesê: “Maak ons las ligter en ons sal jou dien.” Die ouer raadgewers het hom aangeraai om na die mense te luister, maar die jong koning het eerder na sy vriende geluister wat gesê het: “Maak dit moeiliker vir hulle”. Die gevolg was dat hy sy koninkryk verloor het.

Moet nooit goeie raad verwerp nie; dit word dikwels vrylik en in liefde gegee. Baie jare gelede het ʼn paar jong boere besluit om ʼn gewas te plant wat nog nooit voorheen in hierdie gebied geplant is nie. Ons bly in ʼn baie mistige gebied wat beteken dit is altyd klam en reënerig in die somer. Die ouer boere het gewaarsku dat daardie spesifieke gewas nie hier sou groei nie, maar die jong boere het nie daardie raad gevolg nie. Hulle het dit wel geplant.

Aanvanklik het die lande pragtig gelyk, maar toe dit oestyd word, het die plante omgeval. Dit het op die grond gelê en gemuf. Ons moet aandag gee aan wat mans en vroue, wat voor ons daar was, sê. Jesus sê in Matthéüs  11:29: “Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.” Gaan vandag uit en luister na die raad van ervare gelowige mense wat al die lewe gesien het. Hulle sal jou baie trane spaar.

  • Hierdie oordenking verskyn in Op pad met God deur Angus Buchan. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.