Gedagte vir die dag: Groei kom baie keer deur swaarkry

Foto: wealthenthusiast.com

Foto: wealthenthusiast.com

Psalm 119:71,75 – My swaarkry het my geleer om mooi na U te luister. As daar een ding is wat ek weet, Here, is dit dat u bevele ʼn mens help om reg op te tree. Partykeer stuur U probleme na my toe, net om te sien of ek nog aan U vashou.

Ek weet nie of jy al ooit jou voet so hard en seer teen ʼn klip gestamp het en baie bly daaroor was nie. Ek is redelik oortuig dit het nog nie gebeur dat jy jouself te pletter gestamp het en in ʼn vreugde-dansie daaroor gedoen het nie. Dis dan seer! Dis dan sleg! In God se Koningryk werk dit egter anders; ja, totaal irrasioneel. Dis presies hoe God werk en dis presies hoekom ons baie keer so sukkel daarmee. Dink maar aan sewentig maal sewe keer vergewe of draai die ander wang. Dis absoluut irrasioneel. Die wêreld glo aan ʼn oog vir ʼn oog en vergelding. Daarom sukkel ek en jy om te verstaan dat die meeste geestelike groei in jou lewe kan gebeur wanneer jy deur swaar en moeilike tye gaan. Dis in swaar en moeilike tye dat jy die heel naaste aan God kan kom. Dis in jou eensame tye dat jy ʼn kant van God leer ken wat jy andersins nooit sou leer ken het nie. Dis in tawwe tye dat jy ervaar hoe God jou dra, hoe Hy nader aan jou kom as ooit. Dis in moeilike en swaar tye wanneer jy beleef Hy tel jou op en dra jou. Ja, as jy swaar tye reg hanteer, na God draai en toelaat dat Hy jou Abba Vader is, kan dit juis jou kosbaarste tye van geestelike groei wees.

Swaarkry-tye is soos messe, hulle help ons sny of sny ons. Dit hang net af of ons hulle aan die lem of die hef vasgryp. – Herman Mellville

Gebed: Here, dankie dat U my dra in my tye van swaarkry. Dankie dat U my vashou en my Abba Vader is wanneer ek nie meer kan loop nie.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.