Gedagte vir die dag: Groot is u trou

prayingKlaagliedere 3:22-23: Die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.

Thomas Obediah Chisholm is in 1866 in ‘n houthuisie in Kentucky in die VSA gebore. Hy het in ‘n klein plattelandse skooltjie skoolgegaan, en op die ouderdom van 16 het hy begin om daar onderwys te gee. Op die ouderdom 27 word hy ‘n Christen en alhoewel hy geen kollege of seminarium bygewoon het nie, is hy op 36-jarige ouderdom as ‘n Metodiste predikant georden. Hy het, as gevolg van swak gesondheid, net vir ‘n jaar as predikant gedien voordat hy na New Jersey verhuis het waar hy ‘n versekeringskantoor geopen het.

Chisholm het altyd in die digkuns belanggestel en hy het honderde gedigte gedurende sy leeftyd geskryf. Ons teksvers uit Klaagliedere het hom geïnspireer om “Groot is u trou, o Heer” te skryf. Die koorgedeelte lui:
Groot is u trou, o Heer, groot is u trou, o Heer!
Daagliks sien ek u genade ontvou.
U hand versorg my in nood en in lyding.
Ek staan verstom voor u liefde en trou.

Chisholm het daardie trou self beleef. Vir die grootste deel van sy volwasse lewe was sy gesondheid baie swak en het hy nooit baie geld verdien nie, maar tog het hy gesê: “Die Here het vir my baie bewyse van sy troue sorg gegee wat my met groot dankbaarheid vul.” Hy het ook gesê dat hy deur sy eie ondervindings baie van God se troue sorg geleer het, maar dat die lees van die Bybel hom selfs meer geleer het. Interessant of hoe? In die meeste van ons se huise is daar êrens een van die belangrikste lewensgidse denkbaar en dikwels word dit nie gereeld gebruik nie. Die Bybel leer ons dat deur alles wat die lewe ons kant toe laat kom, God by ons is.

Indien jy vanoggend alleen en hulpeloos voel, onthou die Here is getrou. Sy Woord beklemtoon dit oor en oor. Maak sy Woord vandag oop en laat Hom toe om met jou te praat.

Gebed: Hemelse Vader, deur elke seisoen van my lewe bly U dieselfde en u liefde bly getrou. Dankie vir u liefde en trou. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.