Gedagte vir die dag: Groot vergifnis, groot liefde

Luk. 7:41 – 43- Jesus sê toe: ‘Twee mense was in die skuld by ’n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?’ Simon antwoord: ‘Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskel het’.

Dit is eers wanneer ʼn mens besef hoe bankrot jy is – wanneer jy as ’t ware met leë hande voor God kom staan – dat Hy jou kan vergewe. Dit word saamgevat in die woorde van die pragtige evangelielied wat George Beverley Shea so gereeld by Billy Graham se evangelisasieveldtogte gesing het: “Just as I am without one plea, but that Thy blood was shed for me, Oh Lamb of God, I come, I come!”

Omdat nie een van hierdie twee skuldenaars hul skuld kon betaal nie, het die geldskieter in Jesus se verhaal al twee uit genade hul skuld kwytgeskel. Dit is die pragtigste beeld van God se vergifnis. Dís hoe ons skuld kwytgeskeld word. Dít is hoe ons slegte verlede uitgewis word. Die enigste betaalmiddel daarvoor was die bloed van Jesus (1 Pet. 1:18). Hy het Homself as ons skuldoffer aangebied (Jes. 53:10).

Die een met die baie skuld en die een met die min skuld – albei is kwytgeskel. Jesus se vraag aan Simon het in werklikheid net één antwoord: “Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” En Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskel het” (Luk. 7:42-43).

Die vrou se oorstelpte optrede maak meteens sin. Haar sondes wás veel groter as Simon s’n. Daarom was die vergifnis ook groter. En daarom was daar trane in plaas van koue water; soene op sy voete in plaas van op sy wang; en nardusolie in plaas van olyfolie.

Gebed: “Ek loof U omdat u bloed ook die volmaakte prys vir my sondeskuld was, Jesus. Amen.“

Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.