Gedagte vir die dag: Gryp die geleentheid aan

Teks: “’n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: ‘Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ’n bose gees, en dit gaan sleg’” (Matt 15:22).

Toe hierdie onbekende, heidense vrou hoor dat Jesus in haar omgewing is, het sy dadelik na Hom toe gegaan en na Hom geroep. In die grondtaal staan daar dat sy letterlik hard geroep, “geskreeu” het. Onaanvaarbaar, sou ʼn mens wou sê. Onopgevoed, onbeskof, onbeskaafd.

Feit is, wanneer sondaar en Saligmaker, verlorene en Redder, slaaf en Bevryder, sieke en Geneesheer, by mekaar uitkom, word etiket en reëls nie altyd gevolg nie. Jesus sou dalk net een maal deur haar omgewing gereis het. Sy sou waarskynlik nooit weer die geleentheid kry om haar pynlike smart en krisis na Hom toe te bring nie. Sy sou hierdie kans met albei hande aangryp.

Ons vind hier ʼn wesenlike element van geloof – desperaatheid. Jy weet dat al jou ander opsies uitgeput is, dat net God oorbly. Hy word jou enigste toevlug, jou enigste hoop.

Sien in jou geestesoog hierdie hartroerende toneel afspeel iewers in ʼn stofstraat voor ʼn antieke huis in Tirus: ʼn Vrou, ʼn ma, wat by Jesus kom pleit – nie vir haarself nie, maar vir haar dogter. As jy self ʼn ouer is, sal jy verstaan. Jou grootste leed, jou diepste pyn en smart, is nie jou eie nie, maar wanneer daar iets met jou kind verkeerd is. Jou kind se hartseer maak seerder as jou eie pyn. Jou kind se trane is dolke in jou hart. Wanneer jou kind deur die duiwel verniel word, maak dit jou benoud en desperaat. Jou kind se smart word jou smart. Jy voel jou kind se pyn tot in jou diepste menswees.

Dink dan net: God het ons sy kinders gemaak. Só voel Hy ook oor ons.

Gebed: “Laat my dit asseblief besef dat U deur u Gees naby my is, Here Jesus. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.