Gedagte vir die dag: Haar edelste taak

Luk 7:37-38: “Sy bring toe ’n albaste flessie met reukolie en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf”.

Sy voete was vuil van die stof van Galilea se paaie, ongewas daar op die matjie waar Hy op sy sy langs die lae tafel lê. Haar traandruppels maak modderpaadjies waar dit teen sy voete afloop. Een vinnige beweging, en haar vasgemaakte hare val los langs haar geboë kop af. Sy gebruik dit as ʼn doek om sy nat voete skoon te vee en af te droog. Die vuilheid van sy voete kleef aan haar hare, net soos haar sondevuilheid nie lank hierna nie op Hom sou wees wanneer Hy aan die kruis kreun: “Ek is dors.”

Wat ʼn toneel! Haar oë, wat vroeër poele van sonde en vensters van verleiding was, is nou fonteine van trane. Haar gesig, wat eens verleidelik gegrimeer was, is nou blinknat van die trane. Die vernederende werk van ʼn slaaf – om die eienaar se gaste se vuil voete te was – word vir haar die edelste taak van haar hele lewe. Dít is waarvoor sy altyd onthou en bewonder sal word, want die voete waaroor sy gehuil en wat sy met haar hare afgedroog het, was die voete van God se Seun, die Verlosser, haar Heiland. Die voete van die Koning van die heelal, voete wat binnekort deur wrede Romeinse spykers geskeur sou word.

So dikwels is ons ongeneë om in sy koninkryk die minder erkende en eervolle werk te verrig. Onthou, die belangrikheid van enige werk of bediening hang nie af van die menslike eer wat daaraan verbonde is nie, maar van die liefde in ons hart waarmee ons dit vir God doen.

Gebed: “Wat ek ook al vir U kan doen, wil ek vir U doen, Here, met die gesindheid van hierdie vrou. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.