Gedagte vir die dag: Hand in eie boesem

 Luk 7:39 – “Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: ‘Hy, as hy ’n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ’n sondares is.”

Jesus hét geweet watter soort vrou sy was, want Hy was nie net ʼn mens en ’n profeet nie, Hy is ook God! Daar was niks in haar verlede wat vir Hom onbekend was nie, maar Hy het ook geweet dat sy nou ʼn verloste en dankbare mens was. Jesus het egter nie net alles van hierdie vrou geweet nie, Hy het ook déúr sy gasheer gesien en geweet watter soort mens hý was – een van die groep Fariseërs, oor wie Jesus gesê het hulle is soos witgepleisterde grafte.

Simon het gedink dat Jesus, soos die meeste mense, deur die uiterlike beïndruk sou word. Dit sou eintlik vir hom voordelig gewees het as Jesus liewer niks van hierdie vrou geweet het nie… en ook nie in sý hart kon sien nie. Hy wou hê dat Jesus hierdie vrou se sonde moes sien en veroordeel, maar nie sy eie nie. Hoe dikwels gebeur dit nie dat juis mense wat self korrup en in sonde vasgevang is, die vinger na ander wys. Hoe dikwels sê ons nie: “Dis dikwels die een wat self agter die deur staan …”

Daarom moet ons twee keer dink voordat ons ʼn vinger na ander wys of oor ander praat. God sien dwarsdeur ons. Onthou sy woorde aan Samuel: “Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” (1 Sam 16:7). Laat ons dus maar stadig en versigtig wees met ons oordeel, want: “Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee” (Rom 14:12).

Gebed: Here, help my om nie die vinger na ander te wys nie, om altyd eers seker te maak dat mý verhouding met U in orde is. Amen.

Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.