Gedagte vir die dag: Hande wat seën

hande vashouMark 1:41 –  Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: Ek wil. Word gesond.

Tydens Sy bediening op aarde het Jesus mense op verskillende maniere gesond gemaak. Hy het dikwels net ʼn woord gespreek. Ander het Hy aangeraak. Ander het gesond geword as hulle aan Hom of sy klere geraak het. In die geval van hierdie melaatse was Jesus se aanraking waarskynlik nie nodig vir hom om genees te word nie. Trouens, die man se genesing het gekom nadat Jesus gesê het: “Ek wil. Word gesond!” (Mark 1:42). Tog het Jesus hom aangeraak …

Hoe belangrik is aanraking? Ek glo aanraking en aanvaarding loop hand aan hand. ʼn Mens raak nie graag aan iemand vir wie jy nie lief is nie, of van wie jy nie hou nie. Sielkundige en sosiologiese navorsing het onomwonde bevestig hoe belangrik liefdevolle aanraking vir ʼn mens is – veral in jou kinderjare. Die afwesigheid van liefdevolle aanraking en emosionele versorging laat kinders wegkwyn, maak hulle onseker en veroorsaak dikwels dat hulle wanaangepas is. Is dit dan nie treffend dat mense juis hulle kindertjies na Jesus gebring het sodat Hy hulle kon aanraak nie? (Mark 10:13). Dis aangrypend wanneer ons lees wat Jesus gedoen het: “Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën” (Mark 10:16).

Kyk na jou hande. As ’n Christen, as deel van Jesus se liggaam op aarde, is dit moontlik dat jou hande vandag as ’t ware Jesus se hande kan word? In ‘n sekere sin het die hande van Moeder Teresa vir hongeres, kinders en melaatses in Kalkutta Jesus se hande geword. Mag ons hande vandag aan iemand iets oordra van die seën, liefde en sorg van Jesus. Mag ook jy vandag Sý aanraking ervaar.

Gebed: “Here, maak my hande vandag vir iemand ʼn seën. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.