Gedagte vir die dag: Heilig! Heilig! Heilig!

kneel-before-the-crossOpenbaring 4:8 – Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.

“Heilig, heilig, heilig God Almagtig,” lees Reginald Heber se weduwee. Dit is die jaar 1826 en haar man is onlangs oorlede. Tussen sy papiere vind sy die woorde van een van die mooiste en kragtigste gesange wat ooit geskryf is.

Die verhaal lui dat Heber, ‘n Anglikaanse predikant, liedere geskryf het in ‘n poging om die sang van sy gemeentetjie in Engeland te verbeter. Hierdie een is waarskynlik vir Drie-eenheidsondag geskryf. Dit mag dalk nie vir ons so klink nie, maar dit was nogal ‘n radikale ding om te doen. Aan die begin van die 19de eeu het die Anglikaanse kerkowerhede net die sing van die berymde psalms amptelik in kerke toegelaat.

Gelukkig vir ons, het dit Heber nie afgeskrik nie. Alhoewel hy nooit die publikasie van sy lied beleef het nie, beskik ons oor hierdie wonderlike woorde:

Heilig, heilig, heilig,Heer, God almagtig
Groot is u troon, U is steeds met lof omring
heilig, heilig, heilig, liefderyk genadig –
u troon is steeds met lig en lof omring!

En dan in die eerste deel van die tweede vers lees ons:

Heilig, heilig, heilig, heerser vir ewig;
groot is u Naam U die Vader Seun en Gees.

Een woord wat drie keer herhaal word vertel ons so baie van die karakter van God. Twee herhalings beklemtoon ‘n woord. Die woord word egter drie keer herhaal en dit dui op die oortreffende trap en vestig ons aandag op die oneindige heiligheid van God. Dit is die enigste karaktertrek van God wat op hierdie manier drie keer in die Bybel herhaal word. Ons lees nie in die Bybel: “Liefde, liefde, liefde, is die Here God, die Almagtige” of “Woede, woede, woede is die Here God, die Almagtige” nie. Net die heiligheid van God word drie keer herhaal

Heber se gesang beskryf ‘n heilige God wat waardig is om te aanbid. God is waardig want Hy is die Skepper van alle dinge, en deur Hom bestaan alle dinge.

Dit is maklik om in te koop in die moderne filosofie dat ons in beheer is van ons lewens. Maar vanoggend word ons daaraan herinner om nie voorkeur te gee aan enigiets wat ons aandag sal aftrek van die ware en lewende God en van sy wil vir ons nie. God alleen is heilig en ons aanbidding waardig.

Gebed: U alleen is heilig, heilig, heilig en U is die Skepper van alle dinge. Vader, help my om dit te verstaan en om U te aanbid soos dit hoort. Gee dat my aandag nie vandag so op ander dinge gevestig sal wees dat ek nie op U kan fokus nie. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elizabeth ·

Dankie vir hierdie… om dit vroegoggend tussen al die berigte van moord en doodslag en geweld te lees, gee mens krag vir die dag.

Gideon de Klerk ·

Dit is wonderlik om te weet dat God heilig is, maar nerens in die stuk hierbo is enige poging om die term te definieer nie. Wat beteken ‘heilig’? Baie dink dit verwys na waardigheid, of verhewenheid, of selfs onbereikbaarheid. Dit is nie een van hierdie nie! Heilig beteken apartgestel, besonders, anders as die res, afgesonder. Ja, Hy is nie dieselfde God as ander gode nie, maar apart van hulle. As iets vir Hom geheilig word, word dit apart gehou. Hy het ook sy volk Is-ra-el (volk-van-El) so geskape, heilig vir Hom. Die wereldstelsel wil dit verbreek, alles vermeng, alles dieselfde maak. God is inderdaad uniek, enig, soos geen ander, Heilig, Heilig, Heilig!

Jas van As ·

Maroela, wanneer gaan julle vir ons “like”-knoppies op die werf kry? Ek sou nou so graag vir Gideon se kommentaar ‘n “like” wou gegee het.
Gideon, ek hoop jou kommentaar is deur vele gelees. Die mense kan sommer ou woordverklarings gaan raadpleeg. Daar sal hulle ook kan sien “heilig” beteken “apart”. Hoe sê ons Vader in Sy Woord aan Sy volk: Wees heilig, want Ek is heilig.
Groetnis

Dolk ·

‘n Wonderlike gedagte vir enige oomblik of dag…

Gideon, Heilig beteken primêr moreel volmaak, sondeloos en-of sonder die neiging tot enige morele verval of korrupsie. ( Dus Moreel onaantasbaar.) Suiwer van hart en daad. Volkome. Nie omkoopbaar. Regverdig en vlekloos. Sonder enige sonde. Goddelik. Geseënd. Regverdig. In kort: Alles wat Onheilig nie is nie.

Wanneer ons heilig lewe, lewe ons outomaties “apart” van die goddelose…

Gideon de Klerk ·

Dolk, ek verstaan dat wat jy hier skryf, die betekenis geword het vir baie mense, en dit klink (en is) baie mooi. Die oorspronklike betekenis van die antieke Hebreeuse woord nl. Qadosh is letterlik om apartgestel te word vir ‘n spesiale doel. Die toerusting in die tabernakel was byvoorbeeld Qadosh aangesien dit vir geen ander doel gebruik mog word nie. Ek en jy is heilig, maar ons is nie sondeloos of sonder die neiging tot enige verval of korrupsie nie. Ek het juis my oorspronklike kommentaar geopper omdat daar soveel misverstand is oor hierdie belangrike konsep. Die woord Qadosh verskyn 567 keer in die Skrifte!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.