Gedagte vir die dag: Here sal U my vergewe as ek soms nee sê?

manLukas 4:8 – Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen.”

Soms is die las vir ons te swaar en die prys te hoog om te betaal in menslike terme. Soms voel ons ons het soveel gegee en vergewe en verdra dat ons nie meer kan nie. Ons voel leeg getap en afgemat. “Nee” bestaan nie in ons woordeskat nie, terwyl ons weet nog ʼn “ja” gaan die kameel se rug breek. Hoe kan ek “nee” sê sonder om skuldig te voel? Doen wat Jesus gedoen het.

Het Jesus dan grense gestel aan homself? Die antwoord is ʼn duidelike “Ja!” Daar is verskeie geleenthede in die Bybel waar Jesus ʼn besliste “nee” gegee het. Hy weier om die onmoontlike te doen soos om kos vir die wêreld op te tower sodat hulle in hom kan glo (Johannes 6). Kortom, Hy antwoord dat die Brood van die lewe vir hulle baie belangriker is. Dis ʼn harde woord want eintlik sê, Hy sal nie toelaat dat die mens slegs dit wat hy dink goed is vir hom vra nie.

Jesus sit sonder omhaal van woorde die Fariseërs op hulle plek wanneer hulle vra vir ʼn wonderteken juis omdat hulle hom wil uitdaag in Markus 8:11-12. Hy weier om as skeidsregter tussen twee broers wat oor ʼn erfporsie baklei, op te tree in Lukas 12:13-18. In plaas daarvan vermaan hy hulle teen gierigheid. Ons word ook nie geroep om almal se probleme op te los nie. Soms doen mense dom of selfsugtige dinge en dan verwag hulle van jou om kant te kies. Ouers kla dikwels oor ʼn ongehoorsame of moeilike tiener maar as jy ʼn bietjie dieper luister kom jy gou agter die ouer het al die probleme vir hom of haar self op die hals gehaal deur inkonsekwente optrede, gebrek aan grense en sommer net ʼn versuim om waardes aan die kind te leer.

Jesus sê selfs nee vir die wat die naaste aan hom was – sy dissipels – wanneer hy hom in stilte onttrek om met sy Vader te praat (Lukas 7:12-13). Die vraag is dus nie of Hy soms geweier het nie, maar hoe het Hy dit gedoen. Jesus was niemand se ja-broer nie. Hy het hom nie in ʼn hoek laat druk of laat manipuleer nie. Hy het niks gedoen om die guns van mense te wen nie. Sy duidelikste “nee” is in die woestyn wanneer hy die bose op sy plek sit met drie bondige woorde in Lukas 4: “Daar staan geskrywe …”

Gebed:Here, dankie dat U vir ons die vryheid gee om te kies en nee te sê vir dit wat van ons emosionele pakesels maak of ons gesonde sin vir wat reg en verkeerd is oorskrei. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Carla ·

Dit is moeilik om nie altyd in stem en beskikbaar te wees nie ten spyte van die prys wat ons betaal. Kosbare gesinstyd en stiltetyd bly in die slag. Dankie vir die boodskap wat my herinner aan dit wat belangrik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.