Gedagte vir die dag: Hoe groot is U!

h07-cross_sunset-10Psalm 92:5-6 – U groot dade, Here, het my baie bly gemaak, ek wil juig oor wat U gedoen het. Groots is alles wat U doen, Here, ondeurgrondelik u gedagtes.

Die verhaal van die lied Hoe groot is U is baie besonders. Dit het alles begin met ‘n gedig, “O Store Gud,” wat beteken “O grote God” wat Carl Boberg, ‘n jong Sweedse lekeprediker, in 1886 geskryf het. Die gedig is in ‘n koerant gepubliseer en vinnig vergeet.

Jare later was hy verheug om te hoor hoe ‘n Sweedse gemeente sy gedig sing op die wysie van ‘n ou Sweedse volkswysie. Dit is toe in Duits vertaal en later deur Stuart Hine in Engels en is in die 1950’s baie gewild gemaak deur die Billy Graham-veldtogte

Maar daar is meer aan die storie.

In die 1930’s was ‘Sons of the Pioneers’ een van die gewildste “country and western” sanggroepe in Amerika. Tim Spencer was een van dié groep. Tim was getroud met Velma, ‘n Christenvrou wat ernstig vir hom gebid het, veral wanneer hy op toer was. Hy het al die gebede benodig wat hy kon kry. Die titel van een van sy “hits” getuig van sy leesfstyl: “Cigarettes, Whiskey, and Wild Wild Women.”

Een dag in ‘n hotel in Pennsilvanië, het Tim ‘n brief van sy vrou ontvang. Sy het ‘n Bybelteks ingesluit. Tim het die Hotelbybel opgetel, die gedeelte gelees en sy hart vir die Here gegee.

Tim Spencer het later ‘n Gospelmusiek maatskappy, Manna Music, gestig. ‘n Paar jaar later het sy seun, Hal, vir hom ‘n lied gebring wat hy by ‘n studente sendingkonferensie gehoor het. Tim het die skrywer van die woorde, Stuart Hine, gekontak en hy het die lied gepubliseer. Dit het een van die mees geliefde liedere van die 20ste eeu geword. En dit is hoe die die skrywer van “Cigarettes, Whiskey, and Wild Wild Women” die uitgewer geword het wat die wêreld aan “Hoe groot is U” voorgestel het.

Carl Boberg, Tim Spenser and Billy Graham was geslagte uit mekaar, maar hulle het een ding in gemeen gehad, Hulle het die grootheid van God erken. Hulle het dit in die wonder van die skepping gesien; in die maan en sterre, in die veld, die bosse en die berge, maar ook in die fluistering van die wind.

Die grootheid van God is alomteenwoordig, selfs in die kleinste roetinetakie wat jy vandag moet doen. Jy moet net kyk.

Gebed: Hemelse Vader, ek staan in eerbied voor die wonder van u grootheid. Help my om elke dag nie net die natuur te waardeer nie, maar ook die wonderlike geskenk van u Seun, Jesus Christus. Maak my asseblief elke dag bewus van hoe groot U is. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.