Gedagte vir die dag: Hoe Jesus onthou wil word

Johannes 6:35
Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

Baie mense het nog nooit van Jesus gehoor nie. Baie ander se liefde vir Hom het koud geword en vir hulle is Hy iets van die verlede.  Vir miljoene is Hy egter ‘n lewende God.

Die feit dat Christen-gelowiges ‘n Verlosser aanbid wat fisies uit die dood opgewek is, onderskei die Christelike godsdiens van alle ander godsdienste. Nie een van die ander groot gelowe maak ‘n soortgelyke aanspraak nie.

Daar is nie ‘n spesifieke graf waar Christene eer aan ons Here kan gaan bewys en Hom so onthou nie.  Daar is wel in ‘n tuin in Jerusalem ‘n leë graf uitgekap in ‘n rots. In 1883 het majoor-generaal CG Gordon, in sy boek Reflections in Palestine dit as die graf van Jesus geïdentifiseer. Die graf is naby die plek wat as die Kopbeenplek bekend is, en baie Christene aanvaar dat dit die plek is waar die gekruisigde Christus begrawe is en vanwaar Hy op die derde dag uit die dood opgestaan het.

Baie ander Christene glo weer dat die Kerk van die Heilige Graf in Jerusalem bo-op die plek waar Jesus se graf was, gebou is.

Gelukkig is dit nie nodig om Jerusalem te besoek om eer aan die opgestane Christus te bewys nie.  Christene kan dit op enige plek en enige tyd doen.

Jesus het egter gevra dat ons Hom op ‘n spesifieke manier moet onthou en die Bybel vertel ons hoe.

Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly.” Lukas 22:15

Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Lukas 22:19

Dit is hoe ons Here onthou wil word.

Gebed:  Here Jesus, gee dat ons U altyd sal eer en nooit sal vergeet nie dat U uit liefde vir ons aan die kruis gesterf het. Ons bid dit tot eer van u Naam  Amen

Bron:Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Ons het die afgelope naweek weer Nagmaal kon vier om die dood van Christus te gedenk en kan ons maar net bid dat die Heilige Gees ons elke dag daarvan bewus sal maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.