Gedagte vir die dag: Hoe om ‘n positiewe reaksie te kry

Filemon 1:20
Ja, broer, in die Naam van die Here, bewys my hierdie guns. Maak my hart bly, soos ‘n broer in Christus.

Tydens ‘n onlangse oorsese besoek was ek nogal verbaas oor ‘n kennisgewing wat ek op spoorwegstasies, in winkels en regeringskantore opgemerk het. Dié kennisgewing het dit duidelik gestel dat die verbale mishandeling van personeel nie geduld sal word nie.

Dit wil voorkom of ons in ‘n wêreld leef wat glo dat hoe arroganter ‘n mens is en hoe harder jy skel, hoe vinniger sal ander mense ingee en aan jou eise voldoen. En eintlik is die teenoorgestelde waar. Met ‘n beleefde versoek en ‘n glimlag sal jy groter samewerking van die oorspanne beampte kry as wat jy ooit sal kry deur hom uit te skel.

Paulus is vir ons ‘n voorbeeld. Hy was ‘n produktiewe skrywer en sedert sy dood is daar baie meer boeke en artikels oor hom geskryf as wat hy ooit self neergepen het. Hy was ‘n intellektuele man, ‘n kragtige en formidabele prediker en redenaar. Hy was soms ietwat aggressief en te oordeel aan sy geskrifte, het hy nie altyd geduld met dwaasheid gehad nie. In al die baie geskrifte oor Paulus en sy bediening, het ek egter nog nooit gehoor dat hy as ‘n skakelbeampte beskryf word nie.

In sy brief aan Filemon wys Paulus egter iets van hierdie vaardighede. Paulus pleit by Filemon om Onesimus, Filemon se slaaf wat weggeloop het, as ‘n broer in die Here terug te verwelkom! Hy herinner Filemon daaraan dat hy wat Paulus is in Christus die volste reg het om hom op sy plig te wys en hom te beveel om Onesimus nie net as ‘n slaaf nie, maar as ‘n broer in Christus terug te neem. Paulus sê egter omdat hy Filemon liefhet doen hy liewer ‘n beroep op hom op grond van die liefde.

Hoe kon Filemon so ‘n versoek weier?

Ons uitdaging is om Paulus se voorbeeld te volg wanneer ons ander wil oorreed om te doen wat reg is.

Gebed:Here Jesus leer ons om ander te oorreed om te doen wat reg is, omdat ons hulle liefhet. Ek bid dit in u Naam. Amen.

Bron:Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.