Gedagte vir die dag: Hoop, vreugde en vrede

man-with-open-arms-705x335.jpgMag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Rom 15:13)

Mag God iets doen, sodat daar iets met julle kan gebeur, deur middel van … Dit klink na ’n woordraaisel! Maar dit is presies wat Paulus in hierdie teksvers vir die gelowiges in Rome wil deurgee. En vir my is dit een van die trefferverse in Paulus se Romeinebrief.

Sommer uit die staanspoor is dit duidelik dat dit in hierdie teks gaan oor hoop. God word aangedui as die bron van hoop. Soos ons al vantevore gesien het (veral in Rom 8), is hoop ’n baie sterk tema in Paulus se Woordbediening. Gelowiges kry swaar en hulle word aangemoedig om nie hoop te verloor nie. Hulle moet op God en sy beloftes gefokus bly. Hulle toekoms is by God! En God self is die bron van die hoop waarsonder hulle nie kan lewe nie.

Nou goed, wat moet God vir sy kinders doen? Hy moet hulle met vreugde en vrede vervul. Dis nou juis die dinge wat skipbreuk ly sodra ’n mens hoop verloor. As Christene moet ons ’n innerlike vreugde, ’n onblusbare vreugde en ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan, ervaar. En hoe gebeur dit? Deur ons geloof in God se kragtige teenwoordigheid in ons lewens. Die klein stukkie bydrae wat ons kan lewer, is om te glo, om in kinderlike afhanklikheid net ons hande na God uit te steek en onvoorwaardelik op Hom te vertrou. En wat gebeur dan? Behalwe vir die vreugde en vrede word ons in ons hoop versterk deur die kragtige werking van die Heilige Gees.

Mag God dit vandag vir jou doen!

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.