Gedagte vir die dag: Hoor om te glo

Teksvers:Sy het van Jesus gehoor” (Mark 5:27).

In haar nood en smart, met alle ander opsies totaal uitgeput, hoor hierdie vrou wat vir twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, dat Jesus in haar omgewing is.

Dit wys net weer vir ons hoe belangrik dit is dat mense van Jesus moet hoor, dat hulle van Hom moet weet. In tye van voorspoed maak dit dalk nie juis vir mense saak om van Jesus te hoor nie. Dit maak nie juis ’n verskil aan hulle lewe nie. Hulle bêre alles wat hulle oor Jesus hoor en weet iewers in hulle onderbewussyn. Maar die dag sal aanbreek wanneer hulle in ’n krisis, in ’n doodloopstraat, beland. En dan sal hulle van Jesus onthou. Want in ’n krisis is daar niemand wat jy eerder by jou wil hê as vir Jesus nie.

Daarom moet ons nie moeg word om so dikwels moontlik vir ander van Jesus te vertel nie. Wyd en syd moet ons Hom verkondig. Dit is immers waar geloof begin, vertel Paulus vir ons in Romeine 10:17: “Die geloof dus is uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (1953-vertaling).

So baie dinge wat ons vandag hoor, is slegte nuus, nuus wat ons ontmoedig, besoedel en afbreek. Hierdie negatiewe nuus dreig om ons swartgallig te maak, om ons geloof te ondermyn. Maar alles oor Jesus is goeie nuus. Dit is wat die woord evangelie immers in die grondtaal beteken: goeie nuus! Daarom moet ek en jy ons daarop toelê om meer van Jesus te hoor én te vertel. Dit is goeie nuus vir almal! En alhoewel God alomteenwoordig is, is daar tye en omstandighede wanneer Hy deur sy Gees ook naby aan my en jou “verbygaan”. Dan moet ons, soos hierdie vrou, die geleentheid aangryp!

Gebed: “Ek wil al hoe meer van U hoor én vertel, Here. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger, President van AGS van S.A.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ben Biggs

Om aan Christus te behoort Het u geweet- ʼn Gelowige persoon is nie noodwendig ʼn geredde persoon nie? 1Korinthiers 1,21-Want aangesien in die wysheid van God die wêreld (mense) deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo te red. Vraag; Waarom moet ons gered word, en waarvan? Génesis3; Deur die ongehoorsaamheid en begeerlikheid van Adam en Eva in die Paradys het daar skeiding gekom tussen God en die mens. As gevolg hiervan het die mens ʼn sondige natuur geêrf en is gedoem om verlore te gaan.… Lees meer »

Ben Biggs

Het u geweet?;- Die bybel is God se Woord aan die mense. 11 Timóteüs 3,16&17 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. Spreuke30,5&6 Elke woord van God is gelouter, Hy is ʼn skild vir die wat by Hom skuil. Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as ʼn leuenaar openbaar word nie. Het u geweet?;- Jesus se groot opdrag aan sy volgelinge is… Lees meer »