Gedagte vir die dag: Hulle hoef nie weg te gaan nie

Matt.14:16:Maar Jesus sê vir hulle: ‘Hulle hoef nie weg te gaan nie …’”

Dit was seker die wonderlikste woorde wat hierdie honger menigte langs die See van Galilea kon hoor. Woorde van teerheid, liefde en sorg.

Dit moes vir die melaatses wat desperaat na Jesus geroep het om hulle te genees, net so wonderlik gewees het om te hoor: “Julle hoef nie siek en onrein van My af weg te gaan nie.” Hoe wonderlik moes dit nie gewees het vir die vrou wat aan bloedvloeiing gely het en desperaat aan Jesus se klere geraak het om nie sterwend van Hom af weg te gaan nie. En ook vir die blinde wat uitgeroep het na die Seun van Dawid om nie tastend,in die duister huis toe te gaan nie. En hoe wonderlik moes dit nie gewees het vir die vrou wat op die daad van owerspel betrap is, om nie veroordeeld en vreesbevange weggeneem te word om gestenig te word nie.

Hulle hoef nie weg te gaan nie.” Wonderlike woorde vir mense in nood, pyn en smart. Wonderlike woorde vir my en vir jou. Wanneer jy by Jesus uitgekom het, hoef jy nie honger en onversadig weg te gaan nie.

Hy wéét immers wat dit is om honger te wees – Hy was 40 dae lank sonder kos. Hy wéét wat dit is om versoek te word, bedreig te word, bedrieg te word, teleurgestel te word, in die steek gelaat te word. Hy wat by die graf van sy vriend Lasarus geween het, weet wat dit is om ʼn dierbare aan die dood af te staan. Watter leed of pyn jy ook al ervaar, Jesus ken dit. Hebreërs 2:18 sê: “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.” Hy het immers al ons pyn, smart en sonde aan die kruis gedra. Hebreërs 2:17 sê vir ons: “Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen.”

Gebed: Dankie dat ek nie van U af weg hoef te gaan soos ek gekom het nie, Jesus my Here. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van Suid-Afrika.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.