Gedagte vir die dag: Hy is hier. Is jý hier?

Argieffoto (Foto: Natalie Grainger/Unspash)

“Help my tog om u hand styf vas te hou” (Psalm 119:28b).

Skrifgedeelte
Psalm 119:28b

Oordenking
Dit is hartseer, maar dit is tog waar dat ʼn mens in dié dae sukkel om Christus raak te sien, raak te hoor, te voel en te wéét: Hy is bý my. Die manier waarop die wêreld en sy kommersiële agtergrond die koms van Christus herdenk, maak Hóm nie noodwendig sigbaar nie. Dit lê veel eerder klem op die dinge wat ons mensdom rondom sy geboorteherdenking gepak het.

As jy tans sukkel om God se teenwoordigheid in jou lewe te ervaar, onthou dan: God ís by jou. Dalk sien, hoor en voel jy Hom nie, maar Hy is dáár. Hy is daar waar jy nou sit en lees, daar waar jy tussen jou mense kuier, op die strand, in die winkel, in jou motor, in die stilte van die natuur. Al wat jy hoef te doen, is om nou – soos jy dikwels deur die jaar gedoen het – jou gedagtes op Hom te fokus, te erken dat Hy by jou is en met Hom te praat. Wéés egter ook tjoepstil, en luister.

Wanneer God by jou is, kan jy weet:

  • Jy sál iets goddelik ontvang;
  • Sy teenwoordigheid sal aan jou hart ráák;
  • Die Heilige Gees sal oor jou waghou; en
  • Jy sal vrede ontvang.

 

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.