Gedagte vir die dag: Hy is op pad!

88_praisethelord-2Op 1:7 – Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het.

“Al die mense sal Hom sien” gee vir ons groot hoop en ‘n verwagting. Elke gelowige, al Jesus se volgelinge deur die eeue, sal Hom sien. Ook die ongelowiges en die mense wat Hom destyds vervolg en doodgemaak het, sal Hom sien. Die mense wat Hom vandag vervolg deur Christene te vervolg, sal Hom sien. Mense van alle godsdienste sal Hom sien. Mense wat nog nooit van Hom gehoor het nie, sal Hom sien. Mense wat Hom verag en probeer om sy volgelinge van hulle geloof te beroof, sal Hom ook tot hulle ontsteltenis en vrees sien. Een van die dae sal ons Hom sien.

Jesus stel Homself voor as die Alfa en die Omega – die begin en die einde (Op 1:8). Die boek Openbaring begin en eindig dan ook met dieselfde aankondiging: Jesus is op pad! Dit was die groot troos vir die gelowiges in Johannes se tyd, en ook vir ons in ons tyd. Hy wat betrokke was by die skepping van die heelal, is aan die kom. Die begin en die einde van die aarde is in sy hand. Hy is die Almagtige. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Dit skep ‘n probleem vir elkeen wat die wonderwerke van die Bybel verwerp omdat dit kastig nie moontlik is nie. Die Een wat alles uit niks geskep het, wat die natuurwette vasgestel het, is self nie daaraan onderworpe nie. Na sy opstanding kon Hy deur geslote deure stap, in ‘n oomblik van die een plek na ‘n ander beweeg en die aantrekkingskragvan die aarde oorwin en opstyg.

Ons gaan Hom sien! Halleluja!

Gebed: “Here Jesus, ons ken U nag so sleg. Ons sien uit na die dag wanneer U uself ten volle aan ons gaan openbaar.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.