Gedagte vir die dag: Hy weet

hartHos 7:2 – Hulle dink nie eens daaraan dat Ek al hulle sonde ken nie.

Baie van ons glo aan die “elfde gebod”: jy mag nie betrap word nie. Solank ander mense nie daarvan weet nie, is dit nie sonde nie. Een van die boere in ‘n vorige gemeente het ‘n plaasseun betrap terwyl hy gesteel het. Hy laat roep toe sy pa en gee hom ‘n keuse: Of jy gee hom pak, Of ek gee hom pak, Of ek roep die polisie. Die pa het die eerste opsie gekies. Terwyl hy die seun looi, roep hy in Sotho uit: “Jy laat die witman jou vang, nè?” Die sonde was nie om te steel nie, maar om gevang te word. Die Here wou graag die lot van sy volk verander, maar hulle het nie daaraan gedink om, om vergifnis te bid nie. Hulle het met hulle misdaad en korrupsie voortgegaan (Hos 6:1). Hulle het gedink dat niemand hulle sien nie, maar vergeet dat God alles van hulle weet.

Hy ken selfs die gedagtes van hulle hart. Ewe skynheilig het hulle die koning geprys, maar in hulle hart het die verraad soos ‘n oond gesmeul (v 6). “Maar nie een van hulle vra ooit na my wil nie,” is die hartseer woorde waarmee hierdie afdeling afsluit (v 7). As hulle dit maar gedoen het … Wat doen jy waarvan jou ouers, of jou man of jou vrou nie moet weet nie? Wat sal jou in die skande bring as dit in die koerant of in die hofsaak op die lappe kom? Is daar iets waarvan die dominee nie moet weet nie? Wat maak dit saak of ander mense daarvan weet of nie? Wat saak maak, is of God daarvan weet, want daardie verkeerde dade en motiewe sal wel eendag geopenbaar word.

Gebed: “Here, U weet alles. Daar is soveel skandes wat ek vir ander probeer wegsteek. Verlos my daarvan en was my sonde weg.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.