Gedagte vir die dag: Is jy moeg?

Argieffoto (Foto: Aperture Vintage/ Unsplash)

“Tussen die klere wat God vir julle gegee het, is daar ʼn kledingstuk wat alles perfek afrond. Jy moet dit altyd en oral dra. Hierdie kledingstuk is die liefde. As julle mekaar liefhet, leef julle presies soos God dit wil hê” (Kolossense 3:14).

Skrifgedeelte
Kolossense 3:14

Oordenking
Dit is die tyd van die jaar wat ons almal moeg is. Ons is moeg gewerk, moeg van verantwoordelikhede, verpligtinge en moet-doen-dinge. Ons is sommer ook moeg om altyd te probeer om almal rondom ons met liefde te behandel. Juis daarom is dit die tyd van die jaar wat ons mekaar maklik verkeerd kan verstaan, onnodig geïrriteerd kan wees en ons verhoudings kan skipbreuk lei.

Miskien moet ons in dié tyd elke oggend wanneer ons aantrek, simbolies ook die liefde om ons lyf hang en bid dat die Gees dwarsdeur die dag daardie liefdesmantel om ons harte sal hóú. Dat Hy elke keer wanneer ons lus voel om verkeerd op te tree, ons aan die woorde van Paulus in Kolossense 3:14c, 15 sal herinner: Liefde hou julle naby mekaar soos julle veronderstel is om te wees. Dit moet vir julle belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, kies juis dan die vrede van Christus.

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lettie ·

Dankie Melanie vir ‘n wekroep toe ek verlore en verstote gevoel het. More is die dag weer nuut gemaak deur God.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.