Gedagte vir die dag: Ja, Here!

 Matt. 15:25–27: “Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: ‘Here, help my!” Maar Hy antwoord en sê: ‘Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.’ En sy sê: ‘Ja, Here …’”

Die boodskap wat Jesus aan hierdie vrou wil oordra, is duidelik: die “kinders” is die Jode en die Jode het die heidene “honde” genoem. Alhoewel Jesus die kwetsing daarvan ietwat versag deur haar ʼnhondjie te noem, is die sinspeling ondubbelsinnig. Die “brood” verwys duidelik na Jesus self – Hy word die “brood van die lewe” genoem.

Asof haar ontmoediging nie reeds erg genoeg was nie! Eers word sy geïgnoreer, dan sê Jesus dat hy eintlik vir die Jode en nie vir die heidene gekom het nie, en nou kry sy hierdie afjak, hierdie belediging – om met ʼn hond vergelyk te word! Wie sou dit kon verdra? Wel, hierdie vrou het – en nie sonder rede nie! Luister na haar antwoord: “Ja, Here …” Ná hierdie krenkende antwoord van die Here word sy nie opstandig nie. Sy ruk haar nie op nie. Al maak dit seer, erken sy dat dit waar is – omdat die Here dit gesê het. “Ja, Here.”

As meer van ons maar “ja” wou sê vir die Here en sy Woord! Ek dink nou aan die ryk man in die vlamme van die doderyk. Hy wou hê Abraham moes vir Lasarus vanuit die dood stuur om sy broers op aarde te waarsku, omdat hulle op pad was hel toe. Toe Abraham hom daaraan herinner dat hulle Moses en die profete (die Bybel) het, was sy antwoord: “Nee, vader Abraham” (Luk. 16:30). “Nee” vir die Bybel. “Nee” vir die Woord van God! Die gevaarlikste woord om ooit vir die Here uit te spreek, is “nee”!

Gebed: Here, vergewe my asseblief vir elke keer wat ek “nee” gesê het vir u Woord. Ek wil altyd na u luister. Amen

Outeur: Isak Burger: President van AGS & SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.