Gedagte vir die dag: Jesus die ware Betesda

  Joh 5:6-Jesus het hom sien lê en het geweet dat hy al baie lank siek was.

Jesus was in Jerusalem vir een van die Joodse feeste. Jerusalem was in daardie tyd ’n groot stad met vele attraksies. Daar was die pragtige tempel, verskeie paleise, ’n amfiteater met gereelde vertonings – genoeg interessanthede om ’n besoeker aan die stad lank besig te hou. Tog het Jesus tydens sy besoek aan die stad na die plek gegaan waar die meeste leed en smart saamgetrek was – Betesda.

As Jesus vandag na Suid-Afrika moes kom, twyfel ek nie een oomblik waar ons Hom sou vind nie – dáár waar die seer en die nood op sy grootste is. Dit is immers in ooreenstemming met sy duidelike missie in Lukas 4:18-19: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Toe Jesus daardie dag by Betesda opdaag, kon die engel wat gewoonlik die water kom roer het, maar ander werk gaan doen. Want alles waarvoor Betesda gestaan en alles wat dit versimboliseer het, het in Jesus tot vervulling gekom. Hy is dié Man van barmhartigheid en genade. Ons lees ook nooit weer van Betesda nie. Die skaduwee wat heengewys het, het verdwyn toe die Son opkom – selfs vir die man wat toe al 38 jaar lank daar gelê het.

Het jy vandag genade en barmhartigheid nodig? As jy by Jesus kan uitkom, is jy by die regte persoon, die regte adres.

Die vraag is: In watter mate is Christus se kerk – sy liggaam – dis ek en jy, betrokke by die gebrokenheid van ons samelewing en van ons medemens?

Gebed: Here, dankie dat U vir swakkes en gebrokenes tyd het en omgee en dat U die ware Betesda is. Amen.

Outeur:  Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.