Gedagte vir die dag: Jesus en Saggeus – onwaarskynlike vriende

Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Lukas 19:5

Saggeus was ‘n ryk en invloedryke man.  Almal het geweet wie hy was, maar hy het waarskynlik nie baie vriende gehad nie.  Hy was die hoofbelastinggaarder, wat beteken het dat hy ‘n sekere hoeveeldheid vir die Romeinse ryk aan belastings moes kollekteer en alles wat hy meer van die mense kon afdwing was syne.  Hy het mense bankrot gemaak, hy het lenings opgeroep en hy het mense se besittings afgeneem.  Geen wonder niemand het juis van hom gehou nie.

Met dit in gedagte, stel jou voor die skare se reaksie toe Jesus in die openbaar Homself uitnooi om in Saggeus se huis tuis te gaan.  In Saggeus se tyd het ‘n ete saam met mense dieselfde beteken as vandag – dit is as ‘n daad van vriendskap beskou.

Dit is onwaarskynlik dat Saggeus veel in gemeen gehad het met die mense wat dié dag wat hy Jesus ontmoet het na sy huis toe gekom het.  Hulle het verskillende beroepe gehad, uit verskillende sosiale kringe en agtergronde gekom, maar hulle liefde vir Jesus en hulle verlange om by Hom te wees en van Hom te leer, het hulle bymekaar gebring.  Dit is wat Jesus vir sondaars doen.  Hy roep ons by die naam, en Hy nooi ons uit om vriende met Hom te word.  Hy gee nie om of dit sosiaal aanvaarbaar is nie en Hy doen dit nie om Homself beter te laat lyk nie.  En dit moet ook ons houding wees.

Dit laat my wonder of daar iemand is wat die Here vir my as vriend wil gee maar wat ek miskyk. Die vrou by die werk wat ek gewoonlik ignoreer? Die man wat met ‘n aksent praat of miskien glad nie my taal praat nie? Die armes, die eensames, diegene wat van my verskil?  Kom ons klim ‘n bietjie uit ons gemaksone uit en sien ‘n wêreld raak wat so ‘n groot behoefte het aan ‘n vriend soos Jesus – ek en jy kan Hom aan hulle voorstel.

Gebed: Liewe Heer, help my om mense te sien soos U hulle sien. Help my om verder as my huidige vriendekring te kyk en diegene wat U oor my pad stuur, raak te sien.  Amen.

Bron : Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elize ·

ek sal vir n week nie by my rekenaar wees nie,sal julle die eposse stop tot 5 Augustus asseblief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.