Gedagte vir die dag: Jesus kom eendag sy kinders haal

Psalm 96:12,13 – Oor die velde met die jubeling weergalm en in die bome van die woud weerklink. Hierdie uitbundige jubeling is bedoel vir die Here, want Hy kom na ons toe. Ja, Hy kom om te sê wie sy mense is en wie nie. Soos ʼn regverdige regter sal Hy sy besluit neem: oor elke mens sal Hy met billikheid sy uitspraak maak.

Ek het al die voorreg gehad om ʼn paar besondere gebeurtenisse in my lewe te beleef. Een van die hoogtepunte was om my grootste sportheld van alle tye, Roger Federer, op Roland Garros se hoofbaan te sien tennis speel. ʼn Ander geleentheid was om tennis op Wimbledon te kon kyk. Kyk, die mense daar kan raas en te kere gaan! Dis werklik wonderlike feesgeleenthede. Om nie eers te praat van die rugby wat ek gesien het op Loftus, Nuweland, Ellispark en die Vrystaatstadion nie. Daar gaan egter een gebeurtenis wees wat al hierdie geleenthede baie klein gaan laat lyk, en dit is die dag wat Jesus weer kom. Ja, Hy gaan op die wolke kom – die Ruiter op die wit perd kom sy kinders haal. Trompette gaan hard weergalm en enige aardse musiek en fanfares baie sleg laat uitsteek. Die vraag is: Is jy reg vir hierdie dag? Niemand weet wanneer dit gaan wees nie. As Jesus vandag gaan kom, is jy reg om Hom te ontmoet? Hier is die uitdaging: Leef elke dag voluit ʼn rein, skoon lewe. Leef elke dag soos die bruid van Christus. Wees elke dag reg vir wanneer Hy gaan kom. Volg Jesus elke dag en wees gehoorsaam aan Hom.

Om na te laat om voorbereid te wees op Christus se koms is die duurste vorm van uitstel.

Gebed: Here Jesus, ek eer U as die Een wat weer gaan kom en God se kinders gaan kom haal. Help my om elke dag so te leef dat ek reg is as U nou kom.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.