Gedagte vir die dag: Jesus op televisie?

leven-zonder-televisie

Foto: lijstjes.info.com

Markus 2:1‒2 – “Toe Jesus ná ’n paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat hy by die huis is. Baie mense het daar saamgedrom.”

Spoedig nadat Jesus sy openbare bediening begin het, het dit vir hom feitlik onmoontlik geword om privaat te wees, soos hier in Kapernaum. Toe die gerug versprei dat hy by die huis is, het die mense daar begin saamdrom.

Wat het die mense so na hom toe aangetrek? Was dit sy persoonlikheid? Was dit die deernis en liefde wat uit sy hele wese gestraal het? Was dit sy woorde wat so anders was as dié van die godsdienstige leiers en geleerdes van sy tyd? Was dit die hoop wat hy vir mense gebring het – redding vir verlorenes en genesing vir die siekes?

Sonder moderne kommunikasiemiddele en die media het die nuus oor hom wyd en vinnig versprei. Ek wonder hoe dit sou gewees het as Jesus vandag op aarde was, veral as ek dink aan die prominensie en bekendheid van sekere geestelike leiers vandag – die Pous, die Dalai Lama, aartsbiskop Desmond Tutu. Deur televisie, koerante en tydskrifte is daar biljoene mense op aarde wat van hulle weet. Wat sou die media met Jesus Christus gemaak het as hy vandag op aarde geleef het?

As Jesus tweeduisend jaar gelede reeds soveel aandag getrek het, sou ek en jy vandag waarskynlik nooit ’n kans gekry het om naby hom te kom nie. Maar nou het Jesus vir ons sy Gees gegee. Ons kan persoonlik met hom in verbinding wees deur sy Gees. Omdat hy deur sy Gees in die gelowiges en in sy kerk woon, word ons sy liggaam genoem. Nou is dit my en jou voorreg en verantwoordelikheid om Jesus in ons wêreld te verteenwoordig.

Gebed: Jesus, daar is niemand soos u nie. Dankie dat ek u kan ken. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.