Gedagte vir die dag: Jesus praat met jou!

bybelOp 1:3 – Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.

“Was daar al ooit ‘n tyd dat daar so ‘n sterk aanslag op die Christendom was as vandag?” wonder jy dalk as jy sien hoe ongeloof hand oor hand toeneem en met al hoe meer astrantheid en hoogmoed die kerk en sy boodskap afkraak. As jy ook so voel, is dit goed dat ons van vandag af saam in die boek Openbaring lees. Dit is juis bedoel vir mense wat verdruk en vervolg word, en wat op die punt staan om hulle geloof te verloor.

Die boek Openbaring is in ‘n tyd van sterk Christen-vervolging geskryf. Dit gebruik dus apokaliptiese (geheime) beelde en getalle wat vir buitestanders onverstaanbaar sou wees, maar wat die gelowiges van daardie tyd goed kon verstaan. Die diere en getalle moet dus nie letterlik verstaan word nie – elkeen het ‘n dieper betekenis. Ons het reeds hierdie soort geskrifte teëgekom in Daniel, Jesaja, Esegiël en Sagaria. Die boek is geskryf om die gelowiges te bemoedig. Reg aan die begin ontdek ons dat die eintlike skrywer nie Johannes is nie, maar Jesus Christus. Johannes is maar net die een wat die boodskap neergeskryf het. Die boek bestaan uit sewe hoofdele. Sommige mense glo dat dit die geskiedenis agtereenvolgens uitbeeld, maar meer waarskynlik is dit sewe maniere om die hele geskiedenis tussen Christus se eerste en tweede koms te sien. Ons moet altyd in gedagte hou dat daar meer as een manier is om hierdie boek te verstaan, en nie een van ons het al die kennis in pag nie. Ons moet hierdie boek met groot nederigheid lees.

Gebed: “Dankie dat U vir my ook hierdie brief geskryf het, Here.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.