Gedagte vir die dag: Josua beskikbaar om te dien

Na die dood van Moses, die dienaar van die Here, het die Here vir Josua, seun van Nun en assistent van Moses, gesê: “Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk. Gaan na die land toe wat Ek aan hulle, die Israeliete, gee. Josua 1:1-2

Josua in die Ou Testament is ‘n wonderlike voorbeeld van ‘n dienaar van God wat ongelooflike dinge bereik het. Hy het God se doel, beide vir hom en vir die volk Israel vervul. Sy militêre prestasies en geestelike suksesse was bewonderenswaardig. Hoekom het die Here Josua op die manier gebruik? Wat was so spesiaal aan hom?

Bo alles was Josua ‘n dienskneg van God. Lank voordat die Here hom geroep het om Israel te lei, was hy reeds gereed, gewillig en in staat om God se volk te dien. Reeds in Eksodus 17 lees ons dat toe die Amalekiete teen Israel kom veg het terwyl Israel nog op pad na die beloofde land was, het Moses vir Josua gevra om die manskappe bymekaar te kry om te gaan veg. Hoekom was Josua Moses se keuse as militêre leier? Josua se ywer en toewyding aan die werk van die Here was ongetwyfeld een van die beslissende faktore. Josua het dan ook die taak wat aan hom toevertrou is, suksesvol voltooi.

Josua se gewilligheid om die werk van die Here te doen, is ‘n teken van sy diensbare hart. Diensbaarheid beteken nie dat jy moet sit en wag dat ‘n taak aan jou toevertrou word nie, maar dat jy moet doen wat jy kan vir die Here waar jy jou ook al bevind. Dit beteken dat jy aktief en met ywer en toewyding die werk van die Here moet doen. Dit beteken dat jy beskikbaar moet wees vir enige iets wat die Here jou vra om te doen.

Gebed: Here, dankie vir die werk wat U aan my toevertrou het. Help my om dit wat u my gee om te doen, selfs die kleinste dingetjies, met ywer en toewyding te doen en so u vertroue waardig te wees. In u Naam bid ek dit. Amen

Bron : Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.