Gedagte vir die dag: Jou huis….’n tuiste wanneer jy veilig voel

11790family_houseMatt 23:37: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie.”

In gister se dagstukkie het ons gelees hoe God sy rol as Pa beskryf in terme van sy liefde en sorg vir die mens. Hy brei egter hierdie beeld van die ouers in ‘n gesin uit as Hy homself ook vergelyk met ‘n ma – wat sy doen om haar kinders veilig te laat voel.

In Jes 66:13 skryf Jesaja:”Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos.” As ‘n mamma haar kind troos, behels dit meer as net: “Toemaar, ek is hier, moenie bang wees!” Dit is haar fisiese teenwoordigheid wat die trane laat ophou. Haar vertroostende stem kalmeer die kleinding en wanneer sy hom optel en teen haar vasdruk, is bang-wees en onsekerheid vir die oomblik iets van die verlede.

Ons leef in ‘n tyd van afwesige teenwoordige ouers by die huis. Werksdruk, finansiële eise, spanning, bekommernis en huisverpligtinge eis hulle tol – ouers is tuis in die liggaam, maar hulle denke en menswees leef in die knyptang van uitputting, onsekerheid en bang oor môre. Die huis is ook nie meer ‘n veilige huis nie – dit het verander in ‘n plek van misverstande, ongesonde verhoudinge, emosionele uitbarstings en fisiese geweld.

As jy met hierdie omstandighede kan vereenselwig het jy dringend nodig om self getroos te word, om self veilig te voel. Vir jou sê God vandag: “Ek wil jou onder my vlerke neem soos ‘n hen haar kuikens. Ek het al dikwels probeer om dit te doen, maar jy wou nie. Ek wil jou onder my vlerke bymekaarmaak.”

Dis in jou arms, styf vasgedruk teen jou lyf waar jou kind die veiligste voel wanneer die bang hom oorval. Dis God se by-en-in-jou wat jou laat veilig voel. Naby Hom voel jy Sy hartklop en later neem jou hart die ritme van Syne aan….maar dan moet jy wíl skuiling by Hom soek.

As jy dit gedoen het, klop asseblief dringend om hulp aan by ‘n gelowige kundige wat jou kan bystaan op jou pad van gesondword.

Gebed: Vader in die gejaag van elke dag hardloop ek soms bewustelik, ander kere onbewustelik weg van U arms van beskerming en dit bring onsekerheid. Herinner my in sulke tye dat U steeds daar is, dat U al veilige skuilplek is. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.