Gedagte vir die dag: Jou passie

agent-vir-God

Argieffoto

Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg. (Openbaring 3:15)

Die mense van Laodisea was vooruitstrewend en die stad was bekend vir sy handelsware. Hulle het egter gesukkel met watervoorsiening en omdat die water per pypleiding van die nabygeleë warmbronne af gekom het, was dit lou teen die tyd dat dit die stad bereik het en nie lekker om te drink nie. Die mense van Laodisea sou presies verstaan het wat Johannes bedoel het met lou water. Dit smaak nie lekker nie. So onaangenaam lou was die Christene van Laodisea, dat God hulle wou uitspoeg.

Wat gebeur met mense wat eers vuurwarm vir Jesus was, wat alles wou weet en leer en doen en altyd op die voorpunt was, dat hulle afkoel? Is dit omdat hulle eens te veel wou doen, nie genoeg waardeer is vir hul harde werk nie, moeg geword het of verveeld geraak het? Hoe dit ook al sy, niks kan hulle meer opgewonde maak of so ver kry om op te staan en aan die werk te spring vir Jesus nie. Hulle het hul deel gedoen en is net so selfgenoegsaam soos die Fariseërs van ouds.

Gemeentes wat hierdie houding aankweek, raak uitgedien en gemeentelede wat op hul louere rus, raak agter. Die Here is lief vir sy kinders, maar Hy wil op hulle kan vertrou om te help om sy kerk op aarde in stand te hou. Bowenal wil God hê dat ons ons passie vir Jesus moet voed met lofprysing en meelewende kerkbywoning. Bly vuurwarm vir Jesus, al kan jy nie meer heeloggend staan en pannekoek bak of Bybels in Zimbabwe gaan uitdeel nie. Daar is steeds ’n wedloop om te hardloop. Bly hardloop totdat jy die wenstreep oorsteek.

Hemelvader, help my om my bediening in die gemeente so te kies dat ek geestelik en fisiek sal kan byhou.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.