Gedagte vir die dag: Jou tuiste….Bewaak dit

praying-in-successJoh 10:10:”Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê”

Niks oor die lewe self is nuut nie! Sedert Bybelse tye lees ons van misdaad, diefstal, rowers en geweldenaars in die verhaal van die Barmhartige Samaritaan en in Jesus se verwysing na Sy wederkoms as ‘n gebeure soos ‘n dief in die nag. In ons teksvers beskryf Hy ‘n dief as iemand wat net ten doel het om dit wat aan jou behoort te vat, jou fisies skade wil aandoen en as dit kan, totaal te vernietig.

In die lig van Jesus se belofte aan ons naamlik: “Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”(Joh 10:10), is dit dus geen wonder nie dat Jesus ons waarsku om hier voor Sy wederkoms waaksaamheid aan die dag te lê: “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nag waak die dief sou kom, sou hy nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie. ” (Matt 24:42-43).

Watter besittings in ons huis is so belangrik dat ons daaroor moet waak sodat die tuiste wat ons daarmee skep, nie voete kry nie?
Vrede: Jesus het aan ons Sy vrede gegee – nie ‘n kunsmatige vrede wat met handteken= inge op papier gesluit word nie, maar ‘n vrede omdat jy weet Hy is in beheer (Joh 14:27). Hierdie vrede stel jou in staat om met heelheid, rustigheid en sekuriteit jou lewe te leef, asook om met ander gelowiges in rustige, goeie, heel verhoudinge te staan. Paulus skryf hieroor: “Die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe.”(Kol 3:15).

As die dief dit regkry om die vrede waarmee ons met ander saamleef, te steel, kry hy dit ook reg om sy kloue in te slaan in “die eenheid wat die Gees onder ons (gelowiges) gesmee het.” (Efé 4:3). En as ons nie alles in die stryd werp om dit te behou nie, sit ons kort voor lank met onvrede en bitterheid in ons huis – ‘n plek wat ‘n tuiste moet wees vir die Gees.

Gebed: Vader, baie dankie vir die geskenk van Jesus se vrede. Dankie dat dit vir ons moontlik is om dit te behou deur daaroor te waak. Daarom vra ek vandag: Help my om vandag nog die mens wat my seergemaak en skade aangedoen het, te vergewe.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.