Gedagte vir die dag: Julle is briewe deur die Gees geskryf

(Foto: Ylanite/Pixabay)

“Dit is tog duidelik dat julle ʼn brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense” (2 Korintiërs 3:3).

Oordenking
Die apostel noem die gemeente hulle aanbevelingsbriewe, wat deur elkeen gelees kan word. Paulus hoef hom nie self aan te beveel nie, want die vrug van sy prediking en die seën van God daarop was duidelik sigbaar in die gemeente.

Wat lees die mense? Die brief wat op die gelowige geskryf word, is deur die Gees van die lewende God geskryf. Die evangelie is deur die apostels uitgedra. Mense hoor dit en die Gees bevestig dit. God werk kragtig en die Gees open verharde harte. Waar haat was, kom liefde. Waar teenstand was, kom oorgawe aan Christus. Waar twyfel was, kom geloof. Waar verslawing aan die sondige begeertes was, kom bevryding.

Die Gees van God bring wedergeboorte, nuwe lewe. Die Gees werk ook saam waar die Woord van God verkondig word. Daarom is die uitdra van die Woord nooit tevergeefs nie.

Is jou lewe as deel van die gemeente ook soos ʼn aanbevelingsbrief, waarin elkeen wat jou ken die Gees se vernuwende werke kan lees?

Is jy ʼn getuigskrif van God oor die krag van die evangelie, wat in diens van die Heilige Gees is? Watter vrug is sigbaar na soveel saad van die Woord in jou lewe gesaai is? Weerstaan tog nie die Gees nie. Bedroef Hom nie, maar laat jou deur Hom lei op die pad van ware geloofsdade.

Luister hoe die mense om jou reageer op jou manier van lewe. Jou eggenoot, jou kinders, jou medegelowiges in die gemeente, jou kollegas by die werk, jou vriende en ander. Lees hulle die brief van die Gees in jou?

Wees tog duidelik leesbare briewe, wat nie met ink geskryf is nie, maar met die Gees van die lewende God …

Gebed
Ons Vader in die hemel, U is kragtig werksaam in u kinders se lewens. Ons dank U vir die nuwe lewe wat sigbaar is as briewe van die Gees. Amen.

Pitkos
“In die Naam van die Here dring ek by julle daarop aan dat hierdie brief aan al die gelowiges voorgelees word” (1 Tessalonisense 5:27).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sê maar net ·

Pragtig geskryf. Ware woorde. Prys God!! Dankie vir U Heilige Gees in my lewe, ABBA Vader!

ameli ·

Amen. Vader dankie vir Heilige Gees in my lewe om ons elke dag te herinner aan als wat goed is en my te waarsku deur onderskeidings Gees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.