Gedagte vir die dag: Juwele uit die Psalms (2) Die weg van wysheid

Psalm 111:10 – Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig. Die roem van die Here hou altyd stand.

Daar is ‘n glanspublikasie met die titel “Wisdom” deur David Zuckerman. Volgens die flapteks is dié skrywer gemotiveer deur sy mening dat die grootste geskenk wat een geslag vir die volgende geslag kan gee die wysheid is wat hulle deur jare se ondervinding bekom het.

Daarom het hy die menings, geskrifte en idees van 54 van die wêreld se mees prominente godsdienstige leiers, politici, akteurs, kunstenaars, ontwerpers, musici, skrywers en sakeleiers vir die nageslag opgeteken. Hierdie mense het in hulle onderskeie vakgebiede ‘n wêreldwye impak op ander gemaak en hulle kollektiewe wysheid is ‘n waardevolle erfenis vir volgende geslagte.

In die Bybel is daar ook vir die nageslag (en dit sluit jou en my in) die definisie van wysheid opgeteken. Lees weer ons vers vir vandag. Wysheid is ‘n herhalende tema in die Ou Testament. Om die Here te dien, dit is wysheid, om die kwaad te vermy, dit is insig. Job 28:28

Eerbied en ontsag vir die Here behoort altyd ons gedrag te rig. Die Here skenk aan diegene wat sy woord gehoorsaam, die nodige wysheid om reg oor sake te besluit.

Ons moet Hom altyd loof en prys en nooit vergeet dat dit die Almagtige God is wat ons deur sy Seun, Jesus Christus, gered het nie en dat ons ‘n ewige verbond met Hom het nie.

Gebed: Almagtige God, deur Christus het U alles nuut gemaak. Skenk aan ons die wysheid en insig om tussen goed en kwaad te kan onderskei en dit te doen wat U bly maak. Versterk ons deur u Heilige Gees sodat ons deur ons gedrag ons roeping waardig sal wees. Ons vra dit in die Naam van Jesus Christus ons Here. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.