Gedagte vir die dag: Juwele uit die Psalms (3) – Skep moed

Psalm 116:7-9 – Ek moet nou tot rus kom, die Here het goed aan my gedoen: U het my van die dood gered, U het ‘n einde gemaak aan my trane, U het gesorg dat ek nie weer struikel nie. Ek kon voor die Here bly wandel in die land van die lewendes.

Ons vers vir vandag is deel van ‘n dankgebed aangesien God die psalmdigter wat die dood in die gesig gestaar het, laat oorleef het. Daar word soms na Psalms 113-118 verwys as die Egiptiese lofpsalms want hulle herdenk die uittog uit Egipte. In Psalm 114:1 lees ons: Toe Israel uit Egipte getrek het …

Hierdie lofpsalms is gedurende die groot jaarlikse feesdae gesing. Tydens die Paasfees is Psalm 113-114 voor die paasmaal gesing en Psalm 115-118 daarna.

Jesus en sy dissipels het waarskynlik hierdie lofpsalms gesing tydens die paasmaaltyd wat as die Laaste Avondmaal bekend staan. Hierna het sy lyding en dood gevolg. Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe. Markus 14:26

Anders as die geval van die psalmdigter het Jesus nie toe vir God gevra om Hom die wreedheid van die dood te spaar nie. Inteendeel, Hy het sy lewe opgeoffer vir jou en vir my.

Daar word dikwels gesê dat ons net een hartklop weg van die dood is. Dit is die prys wat ons betaal om te leef. Tydens ons leeftyd sal die meeste van ons een of ander tyd die dood in die gesig staar – ‘n lewensgevaarlike siekte, ‘n groot operasie, ‘n wrede aanval of ernstige ongeluk. Maar soos die skrywer van hierdie Psalm het ons ‘n God tot wie ons met vertroue kan bid.

Hy het ons lief en Hy het ons met ‘n doel op aarde geplaas. En totdat dit sy tyd is om ons huis toe te neem, sal Hy ons teen die dood beskerm. Hy sal ons veilig hou en ons in staat stel om Hom te dien, volgens sy wil en tot sy eer. Danksy Hom kan ons die lewe met vertroue aanpak.

Gebed: Here Jesus, skenk aan ons die genade om ons geloof en vertroue op U te vestig. Help ons om sonder twyfel te aanvaar dat U ons te alle tye sal beskerm. Ons bid dit in die kosbare Naam van Jesus. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.