Gedagte vir die dag: Juwele uit die Psalms (4) – Die enigste ware God

Psalm 115:1 – Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys.

Ons vers vandag is deel van ‘n lofpsalm wat die krag van die lewende God teenoor die oneffektiwiteit van mensgemaakte afgode stel. Dit is ‘n oproep om die kinders van die Here daaraan te herinner dat slegs Hy die ware God is en dat aan Hom al die eer toekom.

Daar is ‘n waardevolle les hier vir ons almal. Vir Christene is dit gewoonlik nie ‘n probleem om heidengode en afgode van ander gelowe te verwerp nie. Geloof in jou eie selfbelang en die heldeverering van ander is egter ‘n tipiese menslike fout.

Ons moet daarteen waak om al die eer vir onsself of ander mense toe te eien. Dit is ‘n werklike gevaar want ons leefstyl is dikwels baie besig en selfgesentreerd. Ons maak nie altyd tyd om God te loof en prys nie, en dit moet ons eerste prioriteit wees.

Ons afgode is miskien nie van silwer en goud soos die waarna die psalmdigter verwys nie (v.4). In ons geval kan die misbruik van byvoorbeeld elektroniese beelde ons op die verkeerde pad lei.

Ons Vader is die Almagtige, die Koning van hemel en aarde. Hy is die rots op wie ons te alle tye moet vertrou – die enigste ware God.

God skenk aan ons seëninge om in die lewe te geniet, maar ons moet nooit toelaat dat enige van hierdie seëninge ons lewe geheel en al oorneem nie, want daar is net een ware God.

Gebed: Almagtige God, U is my rots en my redding. Skenk deur u Heilige Gees aan my die krag om my lewe tot u eer te leef. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus, u Seun, wat saam met U en die Heilige Gees tot in alle ewigheid heers. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.