Gedagte vir die dag: Juwele uit die Psalms (5) – Sy woord bring lig

Psalm 119:105 – U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.

Dit is ‘n lig wat ons almal nodig het om ons langs die lewenspad te lei. Stel jou voor, dit is 200 jaar gelede en jy woon in ‘n Christenhuis in Wallis. By die kerk en in die Sondagskool hoor jy die blye boodskap van God se liefde vir jou. Hoe sy Seun, Jesus Christus, vir jou gesterf het.

Jy is in die skool en jou leesvaardighede verbeter al hoe meer. Jy wil so graag die Bybel vir jouself lees. Jy weet daar is ‘n Bybel in Wallies, maar jy weet ook Bybels is baie skaars en jou gesin kan nie een bekostig nie. En tog, jy smag na ‘n Bybel van jou eie. Jy begin om regdeur jou tienerjare te spaar. Toe jy 16 word, stap jy 40 km van jou dorpie na Bala, die naaste groot dorp.

Daar ontmoet jy ‘n predikant wat so geraak word deur jou soeke na ‘n Bybel, dat hy een van sy eie Bybels vir jou gee. Hierdie is die ware verhaal van Mary Jones.

Later, tydens ‘n predikantevergadering in Londen, vertel hierdie predikant van sy ontmoeting met Mary Jones en hy pleit vir Bybels vir Wallis. Een van die ander predikante roep uit: “Indien ons dit vir Wallis doen, hoekom nie vir die hele wêreld nie!” – en dit lei tot die stigting van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) op 7 Maart 1804 – vandag presies 209 jaar gelede. Die taak van die BBBG was om Bybels te vertaal, te druk en bekostigbare Bybels te versprei.

Op daardie stadium was die volledige Bybel in slegs 40 tale beskikbaar. Sedertdien skyn die lig van God se Woord regoor die wêreld. Die volledige Bybel is nou in 475 tale beskikbaar en 2 063 tale beskik oor ten minste een Bybelboek in hulle taal.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het verseker dat die volledige Bybel sedert November 2012 in al 11 ons amptelike tale beskikbaar is. Versprei die Bybel en laat die lig van sy woord ook vir ander die lig op hulle pad wees.

Gebed: Almagtige God, U wat aan die begin beveel het dat daar lig moet wees, ons bid dat die lig van u woord regoor die wêreld sal skyn. Ons dank U vir die werk van die Bybelgenootskap. Gee dat u lig in die harte van baie mense sal skyn sodat hulle U kan leer ken. In die Naam van Jesus. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.