Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (1) – Die keuse is joune

Psalm 1:1-2 – Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.

Tydens sy bediening hier op aarde het ons Here Jesus Christus dikwels uit die Psalms aangehaal. Die meeste Christene het ‘n geliefde Psalm of teksvers uit die Psalms waardeur die Heilige Gees hulle versterk, vertroos en opbou. Vir die meeste Christene is die Psalms ‘n persoonlike skatkis vol waardevolle ‘juwele’ wat ons nader aan God bring en waaruit ons seëninge sonder tal kan put.

Vir hierdie reeks het ek ‘juwele’ uit die skatkis van die Psalms gekies wat my persoonlik aangespreek het.

Neem nou maar ons teksvers vir vandag. Dit gee aan ons ‘n formule vir ware geluk. Indien jy blydskap – ware blydskap wil hê, moet jy ‘n godvresende lewe lei. Die keuse is joune, goed en kwaad word duidelik in swart en wit uitgespel, want God verdra nie skakering van grys nie.

Die probleem is dat die mens ‘n mengsel van beide goed en kwaad is, en ons dikwels keuses maak wat ons later berou.

Paulus som hierdie dilemma mooi op, want dikwels wil ons doen wat reg is, maar slaag nie daarin nie. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. Romeine 7:22-23

Paulus was in dieselfde situasie as elke ander mens. Hy het egter sy antwoord in Jesus Christus gevind. Ons teksvers vir vandag herinner ons voortdurend daaraan dat ons die bose in ons met oorwin en ‘n godvresende lewe moet lei om ware geluk te kan vind. Maar net soos Paulus kan ons dit nie uit onsself doen nie. Slegs deur Jesus Christus kan ons in hierdie lewe en tot in ewigheid ware geluk vind.

Gebed: Hemelse Vader ons dank U vir u Seun, Jesus Christus op wie ons kan vertrou. Help ons om nie met sondaars en ligsinniges om te gaan nie. Help ons om deur die Heilige Gees ‘n godvresende lewe tot U eer te lei. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.