Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (10) – Wie mag die Here aanbid?

 Psalm 15:1 – Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef?

Dawid vra hier vir die Here wie het die reg om in sy teenwoordigheid te kom en wie mag saam met Hom op sy heilige berg vertoef?

Berge, met hulle grootsheid en prag, hou vir die meeste van ons ‘n bekoring in. Hulle domineer die horison en laat ons hemelwaarts kyk. In die Bybel is dit dikwels die plek waar God met sy uitverkore boodskappers ontmoet.

Dit was op die berg, Sinai, waar die Here die Tien Gebooie aan Moses oorhandig het.

Dit was ook op ‘n hoë berg waar Petrus, Jakobus en Johannes in die teenwoordigheid van Moses en Elia die verheerliking van Jesus aanskou het.

In die Bybel word die berg Sion as God se heilige berg beskryf. Sion was ‘n bergvesting in Jerusalem wat deur koning Dawid verower is. Dawid het daar gaan woon en dit sy hoofstad gemaak. Later het hy die Ark daarheen geneem en dit in ‘n tent geplaas waarheen mense gegaan het om God te gaan aanbid. Die mense het die berg Sion eerbiedig. Dit was die plek waarheen pelgrims van oor die hele land gereis het om met God te ontmoet.

Die Bybel beskryf die plek wat die berg Sion in die harte van die gelowiges gehad het, pragtig: Die Here is groot! Aan Hom kom al die lof toe hier in die stad van ons God, hier op sy heilige berg, mooi, hoog geleë, en ‘n vreugde vir die hele aarde, Sionsberg teen die noorde, die stad van die Groot Koning. Psalm 48:1-2

In Psalm 15 verduidelik Dawid wat, na sy mening, die Here verlang van diegene wat Hom wil aanbid – hulle moet onberispelik wandel, doen wat reg is, altyd die waarheid praat en nie kwaad praat nie.

Dit is ‘n wonderlike gedragskode om na te streef. Ongelukkig, al probeer ons ook hoe hard, kan nie een van ons dit reg kry nie. Dit is die verskriklike waarheid.

Prys die Here vir Jesus Christus! Alhoewel ons dit glad nie verdien nie, het Hy sy lewe aan die kruis vir ons gegee. Dit maak nie saak waaraan ons skuldig is nie, as ons waarlik berou het en sy genade soek, sal Hy ons sondes vergeef. Slegs dan sal ons God se onvoorwaardelike liefde ondervind en kan ons waarlik in sy teenwoordigheid kom.

Gebed: Hemelse Vader, gee dat u Heilige Gees ons inspireer en lei en aan ons die nodige krag gee om volgens u wil en tot u eer te leef. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.