Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (11) – Wanneer ons bid

Psalm 102:2 – O HERE, hoor my gebed, en laat my hulpgeroep tot by U kom!

Die juweel wat ons vandag uit die skatkis haal, glinster met trane. Dit is die klaaglied van ‘n hulpelose man wat ernstig siek is, erge stres ervaar en hom in ‘n vyandige omgewing bevind. Dit is ‘n gebed tot God vanuit ‘n hart wat swaarmoedig is.

Ons persoonlike omstandighede mag, in vergelyking met dié van die psalmdigter, miskien baie beter wees, maar in ons verhouding met die Here is ons gebede net so noodsaaklik as syne.

Gebed is ‘n intens persoonlike interaksie tussen ons en God. Hoe meer ons bid, hoe nader beweeg ons aan God en hoe nader ons aan Hom kom, hoe sterker word ons verbintenis met ons Vader.

Hoe naby aan God is jy? Dit is ‘n vraag wat elke gelowige homself moet afvra.

Die skrywer van Psalm 73 is baie duidelik oor sy verhouding met God: U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem. Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. Al beswyk my vlees en my hart — God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid. Psalm 73:24-26

Verhoudings is afhanklik van die kommunikasie tussen mense. Deur gebed (ons kommunikasie met God) verdiep ons ons verhouding met die Here.

Gebed is in die eerste plek nie ‘n geval waar ons tot die troon van genade nader met ‘n bedelbakkie in die hand nie. Deur gebed gee ons aan God die lof en eer wat Hom toekom. Die mens is gemaak om God te eer en as ons dit doen, vervul ons die werklike doel van ons bestaan.

Moet ons dan nie ons behoeftes aan God bekend maak nie? Natuurlik moet ons. Jesus leer ons dat God ‘n liefdevolle Vader is wat na sy kinders luister. As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid! Matteus 7:11

Ons gebedsversoeke word egter nie altyd beantwoord soos ons dit graag wil hê nie. Die woorde van Jesus toe Hy in Getsemane gebid het, moet soos ‘n goue draad deur ons gebede vleg: nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. Matteus 26:39

Ons weet nie altyd wat die beste vir ons is nie. Die Here weet wel. Rus in sy wil.

Gebed: Seën ons Hemelse Vader, dat ons deur u Heilige Gees U mag loof en prys en U eer en aanbid tot verheerliking van u heilige Naam. Ons bid dat in Jesus Naam. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.