Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (12) – Here, ek is so jammer

Psalm 51:12-14 – Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.

Owerspel, ‘n moord word beplan, die slagoffer word vermoor, die baasbrein word met die aangeleentheid gekonfronteer, hy beken skuld en is vreeslik jammer. Hierdie klink soos ‘n tipiese mediaberig in ons koerante wat ‘n Maandag in ‘n blou Maandag kan verander.

Die verhaal waarna ek hier verwys gaan egter nooit die hoofopskrifte haal nie, alhoewel die skuldige ‘n beroemde koning was. Dit het te lank gelede gebeur. Jy kan egter die volle verhaal in jou Bybel in 2 Samuel 11 & 12 lees.

Die koning waarna verwys word, was niemand anders as Koning Dawid nie. ‘n Briljante en komplekse man wat deur die genade van God, Israel se grootste koning geword het.

Dit was Natan. die profeet, wat Dwaid oor sy owerspel met Batseba en die moord van haar man, Urija die Hetiet, gekonfronteer het. Natan het ook vir Dawid vertel wat die gevolge van sy dade sou wees, al het die Here hom vergewe.

Dawid was so verneder en het so vuil gevoel van die sonde wat hy gepleeg het, dat hy Psalm 51 gedig het. Psalm 51 is die mees geliefde juweel in my persoonlike skatkis uit die Psalms.

God het Dawid vergewe, maar Dawid het meer verlang. So hy pleit desperaat by God om hom skoon te was van skuld. Hy smeek dat God hom van sy sonde moet reinig: “was my dat ek witter as sneeu kan wees … moet tog nie ag slaan op my sondes nie,” en dan ons vers vir vandag: Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig, en wat daarop volg.

Dawid het die Here liefgehad en hy het Hom gedien. Die Here het Dawid bo alle verwagtinge geseën. Die sonde wat Dawid gedoen het, het God baie kwaad gemaak, maar tog het Hy hom vergewe. Dawid was egter radeloos van angs alhoewel God hom vergewe het. Dit was noodsaaklik dat hy in homself oortuig moes wees dat hy reg is met God.

Dawid was nie uniek in hierdie geval nie. Ons maak almal foute en struikel. Dit is dan wanneer dit nodig is dat ons ons eerstens tot ons Hemelse Vader wend en sê: “Here, ek is jammer.” Eers dan kan ons dit wat ons verkeerd gedoen het, aanspreek. Dan kan ons onder leiding van die Heilige Gees in geloof en met vrede in ons siel aanbeweeg.

Gebed: Almagtige God, ons het U lief, en tog laat ons U keer op keer in die steek. Vergewe asseblief ons sondes, ter wille van u Seun, Jesus Christus ons Here. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.